Tuesday 31 December 2013




GELOOF 


Vertrou volkome op die Here. – Spr. 3:5 


Heer, of dit nou goed gaan met my, of sleg, ek weet U is áltyd daar vir my! Ek gló dit en ek wéét dit, want hoé baie kere het U my nie al bygestaan deur al die op en af tye in my lewe nie! 


Dánkie Heer, vir U lig en leiding elke liewe dag – dankie dat ek kan wandel in Ú lig. 

Dánkie Heer, vir die vrede in my gemoed – vrede gebore uit U liefde in my hart. In U liefde Heer, voel ek beskermd en veilig. 

Dánkie Heer, vir die kosbare mense in my lewe. Help my Heer, om altyd vir hulle tot seën te kan wees, soos hulle ook vir mý tot seën is. 

Dánkie Heer, vir die lug wat ek kan inasem en wat my aan die lewe hou – dankie vir voedsame kos wat ek kan eet. Klere om aan te trek en ‘n plek om te woon. 

Dánkie Heer, vir U lig waarin ek elke dag kan wandel saam met my Ligvriendekring – dankie vir U liefde waarin ek kan handel en vir U krag waarin ek sterk en vol moed kan voortgaan. 

Die heel gróótste dankie wat ek U kan gee, Heer, is my liefde en geloof in U, en dit gee ek vandag met my héle hart! 


Gebed: Dánkie, Vader! 


~ Uit Daelikse Woord ~



Saturday 14 December 2013





HIERDIE DAG

Dit is die dag wat die Here gemaak het.  -  Ps. 118:24

Dit is enige maand van die jaar ‘n goeie plan om een dag op ‘n keer te lewe en een treetjie op ‘n keer te neem, maar dit is veral gedurende die maand Desember ‘n uitstekende plan om dit te doen.

Ons wil nie graag die gevoel kry van haas en spanning nie en ons wil ook nie voel dat ons moet jaag om dinge gedaan te kry nie.  Dit is ook nie nodig dat ons so voel nie.

Een dag op ‘n keer en een treetjie op ‘n keer.  Met Gods hulp doen ons vandag dit wat belangrik is.  Ons neem een treetjie op ‘n keer en ons bereik ons doelstellings  en mikpunte vir hierdie een dag.  Dit gee vir ons ‘n gevoel van vrede, van verfrissing, hernuwing en entoesiasme.

Laat ons elke dag geniet en laat ons elke dag tel – tel as ‘n dag waar ons iets bereik het, tel as ‘n dag van vrede, tel as ‘n dag waarop ons iets kan bydra tot die welsyn en geluk van ander.

Maar mees belangrikste om ons Heer, wat hierdie dag aan ons genadiglik geskenk het, se hart te verbly hierdie dag!



~ Uit Daelikse Woord ~




EEN MET GOD

Die Here is naby almal wat Hom aanroep.  -  Ps. 145:18

Is daar een mens wat nie daarna smag om altyd na-aan God te voel nie – altyd veilig gekoester in Sy liefde en lig nie?  Die waarheid is dat ons nooit geskei is van hierdie hemelse Teenwoordigheid nie.  As ons alleen, bevrees en verlate voel, is dit maar net ons wat self die muur tussen ons en die Heer van ons hart gebou het.

En hoe maklik is dit nie om hierdie muur af te breek nie!  Hoe maklik is dit nie om stil, in gebed, ons diepste heiligdom binne te gaan en Hom daar te vind nie .... “Heer van my hart, U liefde maak my hart tot oorlopens toe vol – ek weet dit, ek voel dit, en my siel sing van vreugde oor die grootse wonder van U teenwoordigheid wat my so sag en liefderik toevou en omvou.  U ken my verlangens, my drome en my behoeftes.  Ek plaas alles nou in U bekwame hande, en in stilte luister ek sodat ek kan weet wat U wonderlike wil vir my is.  In my tye van gebed beweeg ek elke dag al hoe nader aan U, o Heer.  Hoe heerlik om so een te word met U lig, U liefde en krag!  Dankie, dierbare Hemelvader!”

Gebed:  Dankie Heer, dat U altyd so na aan my is!

~ Uit Daelikse Woord ~

Thursday 12 December 2013





VOL  VERTROUE

Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie:  dit hou groot beloning in.  -  Hebr. 10:35

Hoé heerlik die wete dat my Heer vandag hand aan hand met my saamstap.  Dat Hy my in Sy lig deur álles heen lei wat vandag ookal met my mag gebeur. 

As onmin sy kop uitsteek tussen my en ‘n geliefde, ‘n medewerker, of selfs ‘n vreemdeling, bly ek kalm.  Ek weet dat lig-gedagtes opgevolg word deur woorde en dade wat orde en harmonie herstel.

Nooit, vir géén oomblik, verloor ek my vertroue in God en in Sy lig wat so helder in my en om my skyn nie.

Waar ek ookal is, wat ek ookal doen, en wat ookal met my mag gebeur, ek hou my oë op Sý lig gevestig, ek hou my hart oop vir Sý liefde, en ek bly gereed om in Sý krag die oorwinnaar te wees oor my emosies, my vrese en my twyfel.  Met my drie diamante is ek ‘n wenner!

Hoe gróót die beloning en hoe héérlik om so vol vertroue voort te kan gaan op Gods pad van lig wat so helder voor my en al my Ligvriende uitgestrek lê!  Dankie Heer, vir my drie helder stralende diamante!

Gebed:  Ek bly kalm en vol vertroue.


~ Uit Daelikse Woord ~

Sunday 1 December 2013





DANKIE VADER!


Dank Hom, prys sy naam. – Ps. 100:4


Dankie vir hierdie skone môre, dankie vir hierdie sonskyndag – dankie vir hierdie wonderpad vandag so saam met U!  ... kom, sing saam liewe mensies, maak jul eie woorde en sing die héle dag deur, want al sing ons ons danklied dwarsdeur die dag en in die nag, dan skiet dit nog vér te kort in die dank wat ons vandag aan ons Heer wil oordra!

Dierbare Heer van my hart, ek weet U hoor my lied, ek weet U verstaan dat dit gevul is met lof en waardering vir hierdie mooie dag, en al die mense wat my dag sal vul.

Vir hierdie liggaam waarin ek lewe en beweeg, Heer, my diepste diepste dank – vir U Lig wat elke sel en atoom van my liggaam deurstraal, en my gesond en sterk genoeg maak om U te dien en eer, en Lig en Liefde oor te dra aan elkeen wat my pad mag kruis, met diepste, diepste dank.

Dankie Vader, vir ons Ligvriendekring waarvan ek deel mag wees – met wie ek kan saambid, saamsing en saamwerk en dankie sê!  Dankie, Heer, vir die harmonie wat U is in my!


Gebed:  Dankie Vader, vir die wonder van U in my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 30 November 2013





WONDER


Dit was die wil van die Vader om die koninkryk aan julle te gee.  -  Luk. 12:32


Die koninkryk wat ons dierbare Vader aan ons gee, maak die lewe ‘n wonder.  Dit is Sy lewe waarin ons lewe en bestaan wat ons van die nodige energie en krag voorsien.  Dit is Sy lewe wat heling bring.  Dit seën ons met liefde, vreugde, vrede, orde en alles wat mooi en goed is, as ons dit maar net wil aanvaar en waardeer.

Is ons miskien moedeloos en bedruk?  Dan is vandag die aangewese tyd om ‘n ommeswaai te maak.  Die lewe is ‘n wonder, met veelvuldige seëninge wat God daagliks op ons uitstort.  Daar bestaan nie ‘n tyd, plek of situasie waarin ons nie gebruik kan maak van die wonderlike eienskappe van Gods lewe om ons te seën en met nuwe krag te vul nie.

Laat ons vandag begin met die volgende gedagte:  “Met vreugde sien ek uit na die wonder wat God vir my in gedagte het!”   Nou is ons gereed om daardie wonder raak te sien en te geniet.  Dankie, Heer, vir die wonder van U lewe wat my so bly maak!


Gebed:  Met vreugde sien ek uit na die wonder wat God vir my in gedagte het.



~ Uit Daelikse Woord ~



Monday 18 November 2013

WOORDE VAN LIG







As jy wysheid het, het jy self die voordeel daarvan;  as jy ‘n ligsinnige mens is, dra jy alleen die las.  -  Spr. 9:12


Vriendelike woorde teenoor my, van familie of vriende, helder sommer my dag op.  Gelukkig kan ek ook dieselfde vir hulle doen!

Met woorde van lig, gebore uit lig-gedagtes, hef ek andere om my op, en die spontane vreugde wat ek in hul oë sien by die aanhoor van sulke mooi woorde, hef my óók op.  Hoe héérlik om die lig van liefde en waardering op iemand na-aan my te fokus.

Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar.  Soos ek andere kan seën en ophef met my mooi woorde, net so kan ek óók vir hulle en vir myself seermaak  met woorde wat nié gebore is uit liefde nie.   Dink net, my eie woorde kan ophef  óf aftakel – dit hang dus van mý af of ek gelukkig met andere gaan saamleef of nie.   Waarom sal ek dan nie alles in my vermoë doen om áltyd vriendelike en opheffende woorde te gebruik nie?  Hiervoor is lig-gedagtes nodig – lig-gedagtes van Christus wat in my diepste heiligdom woon en deur my praat, omskep my woorde in lig-woorde.


Gebed:  U Lig in my gedagtes, dierbare Heer, kan gehoor word in my woorde.



~ Uit Daelikse Woord ~



Sunday 17 November 2013

NALATENSKAP





NALATENSKAP


Al praat ek die tale van mense en engele, maar het geen liefde nie, het ek ‘n klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword.  -  1  Kor. 13:1


Vir 33 jaar het ons Here Jesus na hierdie aarde gekom, en ongeag ál die teenstand en vervolging, was die wêreld daarna nóóit ooit weer dieselfde nie, omdat Hy die grootste wonder van alle wonders vir ons, die mens, nagelaat het.

En hierdie wonder dan?  Dit is liefde – ongeëwenaarde liefde wat Hy van sy Vader ontvang het, wat Hy vir ons nagelaat het as ons dit maar net wil erken, herken en ons eie wil maak!   En dit is só maklik, ons moet net ons hart oopmaak, en Hy sal met al sy liefde en lig sy intrek daarin neem.

Met ‘n hart aan ons Here Jesus Christus toegewy, kan ons ook ons merk maak in die lewe – ons kan sy liefde deel met ons medemens, en die liefdeblommetjies wat ons só saai, is die beste nalatenskap wat enigiemand ooit kan doen.   Elke klinkende metaal en galmende simbaal sal stil word, en ons hartelose wêreld sal  nooit weer dieselfde wees nie, omdat ons hierlangs verby is.


Gebed:  In U liefde, Heer, maak ek ook my merk in hierdie wêreld wat U vir ons gegee het om tydelik in te woon.


~ Uit Daelikse Woord ~






MY LIEFSTE KIND ........................... ♥




My liefste kind ............

Onthou, vir My is jy báie kosbaar.

Wandel in My lig,

en laat die hoekoms

en die waaroms in jou lewe

aan Mý oor.

Ek sorg vir jou!

Na gees, siel en liggaam genees Ek jou

en níks wat nié tot jou hoogste heil is

sal met jou gebeur nie.

In My krag kan jy

elke uitdaging in ‘n geleentheid omskep.

Wees sterk!

In Mý liefde kan jy

die omgee-mens wees

wat jy só graag wil wees.

Wees Liefde!

In Mý lig kan jy

andere met insig en begrip lei.

Wees Lig!

Geliefde, as jy maar net weet hóé

na-aan jou Ek wérklik is!

Kóm, vat My hand!




~ Uit Daelikse Woord ~ 

Monday 4 November 2013

ROEP MY AAN




Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.  -  Jer. 33:3


Wanneer jy My nodig het, onthou, Ek is altyd net hier by jou.  Geen droom is so groot, geen behoefte so klein, dat Ek jou nie kan help om die regte oplossing te vind nie.

Werp ál jou bekommernisse en sorge op My, dra jou drome en jou wense oor aan My, en Ek sal jou rig en lei op die weg wat vir jou die beste is.  Glo dit, geliefde, glo in My en in die werke van My lig,  My liefde en krag in jou lewe.  Dit wat Ek vir jou in gedagte het sal geskied, en jy sal rus vind vir jou moeë soekende siel.  Laat my toe om oor te neem, en weet Ek is in beheer.

Roep  My aan – Ek sal antwoord.  En moenie moedeloos raak as My antwoord nie ooreenstem met dit wat jy verwag nie.  Onthou net, omdat Ek jou lief het en jy vir my baie kosbaar is, is My antwoord altyd vir jou hoogste heil en wat die heel beste vir jou sal wees.

Geliefde, kom vat My Hand, Ek is hier by jou!


Gebed:  Op U Heer, vertrou ek – hou my hand styf vas!



~ Uit Daelikse Woord ~


DIE WAARHEID




God het die mens geskape na sy beeld ... man en vrou het Hy hulle geskape.  -  Gen. 1:27 OV


Wat is die waarheid omtrent my?  Defnitief nie dit wat die mense sien of hoor met hul fisiese oë en ore nie.  My ware self is geestelik van aard, geskep na die beeld van God.  Dit is die Gees van die Here Jesus Christus in my, en vandag gaan ek in harmonie met hierdie grootse en Heilige Teenwoordigheid in my, handel en wandel.

Ek gaan myself fyn dophou, en as ek woorde gebruik wat minder vriendelik is, of stellings maak wat nie positief is nie, gaan ek onmiddellik daarop reageer, want die ware ek is sag en vriendelik en glo in God.  Ek is bewus van die skeppende krag van woorde en gedagtes, en omdat ek net die goeie en die mooie in my en om my wil skep, dink en praat ek vanuit my ware Self.

Hoe heerlik om so te kan lewe!   Wat ‘n ongelooflike voorreg om so ‘n ware Self te hê in wie se krag en liefde ek niemand te na kom nie, maar net vrede en liefde kan saai so ver ek gaan.

“Na U beeld Heer, het U my geskape.  Help my om hierdie beeld uit te dra so ver ek gaan.”


Gebed:  Ek is ‘n geestelike wese op U pad van Lig.


~ Uit Daelikse Woord ~



KYK EN LUISTER




Ek wil die Here prys so lank ek lewe.  -  Ps. 146:2


Is ons so vasgevang in die eise wat elke dag aan ons stel, so besig om ons te haas van die een plek na die ander, dat ons nie eers raaksien hoe mooi alles om ons is nie?  Die skoonheid van Gods skepping gaan sommer net by ons verby.

Kom ons word vir ‘n oomblik stil – maak tyd om te kyk en te luister, en ons sal verbaas wees oor wat God ons skenk!   Die skoenlapper wat so vrolik voor ons verbyfladder, nie lank gelede nie nog ‘n wurm – die voëltjies wat vrolik besig is met hulle nessies – dooie saad wat ontluik in die lieflikste kleure en geure – die vrolik gelag van ‘n kind – te veel om op te noem, is die wonders wat hierdie mooi dag voor ons ontvou.

Wat keer ons om ook op die wieke van Gods liefde en lig, te vlieg soos die skoenlappers, te sing soos die voëltjies, en saam met die blomme hulde te bring aan ons Skepper – wat keer ons?

Kom ons sing en wees bly, want God is nog in volle beheer van sy wonderskone wêreld!


Gebed:  Ek prys die Here so lank ek lewe!


~ Uit Daelikse Woord ~



TROOS





Wat  julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen.  En God wat vrede gee, sal by julle wees.  -  Filip. 4:9


Heer, toe mense getwyfel het aan my en my vermoëns, is dit U wat my voortdurend opgebeur en aangemoedig het.  Toe dit gelyk het asof alles verlore is, het U aan my gewys hoeveel meer daar is en kan wees.  Toe ek gedink het ek sal nooit weer vrede en rus vind vir my moeë siel nie, het U my toegevou in U liefde, en ‘n diepe rus en vrede het my hart binnegevloei.  Toe ek aangeneem het dat ek niks beteken nie, het U vir my gewys hoe waardevol ek vir U en U wêreld is.

U, Heer van my hart, is die antwoord op alles wat ek ooit mag nodig hê.  Wanneer ek U aanroep, is U altyd daar.  Vir ewig saamgebind in die liefde van God, weet ek U sal in die toekoms, soos in die verlede, steeds vir my sorg.

Die vrede en vreugde wat ek ervaar omdat ek leef vanuit U liefde en lig binne-in my, kan nie in woorde omskryf word nie.  U omskep my in ‘n baken van lig en liefde in my land en in my wêreld.


Gebed:  Dankie Vader, dat U altyd so na aan my is.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 31 October 2013

MY WERK







Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe.  -  Ef.  3:20


As ek baie dinge het om te doen en baie eise aan my gestel word, onthou ek dat my Heer saam met my werk.  As daar iets onaangenaam of moeilik is wat ek moet doen, onthou ek dat ek vír God werk.  Met hierdie wete benader ek al my daaglikse take met ‘n ligte hart, ‘n opgewekte gemoed en ‘n gewillige hand.

Omdat ek vir God werk, is die werk maklik, en kan ek dit doen sonder enige inspanning of moeite.  Dit maak nie saak hoe veeleisend die werk is wat ek moet doen nie – ek werk nie alleen nie, dit weet ek!

My Hemelvader verhelder my gedagtes en inspireer my met skeppende idees.  Sy liefde vloei in my en om my en hef my op.  Sy krag gee aan my die nodige krag waar ek dit ookal mag nodig hê.  Sy orde sorg dat alles, tot in die fynste besonderhede, volgens ‘n volmaakte plan verloop.

Dit wat ek moet doen, handel ek vinnig en maklik af, want ek werk saam met God.  Hoe gelukkig maak hierdie wete my net nie!


Gebed:  Dankie Dierbare Heer, dat U so saam met my werk en vir my krag gee in alles wat ek moet doen.


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 20 October 2013

DIE REGTE PAD






Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.
Spr. 3:6


Het jy dalk by 'n kruispad in jou lewe gekom en jy weet nie watter pad om te volg nie? Wend jou maar net tot die opgestane Christus in jou hart vir leiding en inspirasie.

Hy werk deur my as intelligensie en wysheid. Ek is in staat daartoe om die regte besluite te neem! Hy werk deur my as leiding en openbaarmaking. Ek is geïnspireer! My hart en gemoed is oop vir Sy goddelike idees.

Christus is my innerlike wegwyser. Ek wend my tot Hom in my stil oomblikke van gebed, en ek weet wat om te doen en hoe om dit te doen.

Geen keuse is te moeilik en geen aksieplan te onduidelik as ek op Hom staatmaak vir leiding nie. Die weg wat ek moet volg, lê duidelik en oop voor my, want Christus self laat Sy lig voor my uit skyn op die weg wat ek moet volg.


Gebed: Die Lig van Christus skyn duidelik op my pad!

~ Uit Daelikse Woord ~


Saturday 19 October 2013

KIND VAN GOD






Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het:  Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.  -  1  Joh.  3:1


As ‘n kind van God is ek vriendelik, opgeruimd en vol lewenslus.  Ek is vry, vertrouend, belangstellend en afwagtend.

As ‘n kind van God vertrou ek volkome op Sy beskerming en leiding.  Ek is oop en ontvanklik vir die goeie.  Ek is vry om te ontdek en te ondersoek.  Ek beskik oor die nodige lewenskrag om my doelwitte na te streef.  Ek verwag die regte en lonende resultate.  Ek raak ontslae van alle beperkinge wat ek op my eie vermoëns geplaas het.  Vrolik en bly leef ek soos dit ‘n kind van God betaam om te leef.

Ek is Gods kind, vry om my hoogste ideale uit te leef in die wêreld waar Hy my geplaas het.  Ek streef na sukses en gooi alles in die stryd om dit te behaal.

As ‘n kind van God is ek vrolik, vol vertroue en vry!


Gebed:  Ek is Gods kind, vrolik, vry en vol vertroue.


~ Uit Daelikse Woord ~

Friday 4 October 2013

DIE VERLOSSING







Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.  -  2 Kor. 5:17


Hoe heerlik!   Nou wéét ek dat ek aan Christus behoort.   Ek weet ek is nie volmaak nie, en het nog ‘n lang pad vorentoe in my geloofslewe, maar ek weet óók, ek is besig om te bou aan die Tempel van God – my eie Tempel – en niemand kan my meer daarin aan bande lê  nie, of my laat twyfel in die egtheid van die pad van Lig wat ek betree het die dag toe ek Christus my hart laat binnekom het, as my Hulp en Ondersteuning, my Leidsman, my eie Broer en Boesemvriend – my sommer *ALLES*!

Soos die son wat elke oggend oor die horison opkom, so kom die heerlikheid van die Here oor my op.  Elke dag staan ek stil en aanskou die verlossing wat al hierdie lig bring, en my siel sing in my van vroeg tot laat, en ook sommer deur heel die nag.

Heer van my hart, my dank ken géén perke nie!  Ek weet nou U het U intrek in my hart geneem – ek weet U bou hierdie Ligtempel wat ek nou is saam met my van dag tot mooie dag, en help my om die lig te sien in elke ervaring in my lewe – die oorwinning in elke uitdaging – want U is mét my!


Gebed:  Ek is verlos!  ‘n Nuwe mens!  Dankie, Dankie, Dankie!


~ Uit Daelikse Woord ~