Thursday 31 October 2013

MY WERK







Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe.  -  Ef.  3:20


As ek baie dinge het om te doen en baie eise aan my gestel word, onthou ek dat my Heer saam met my werk.  As daar iets onaangenaam of moeilik is wat ek moet doen, onthou ek dat ek vír God werk.  Met hierdie wete benader ek al my daaglikse take met ‘n ligte hart, ‘n opgewekte gemoed en ‘n gewillige hand.

Omdat ek vir God werk, is die werk maklik, en kan ek dit doen sonder enige inspanning of moeite.  Dit maak nie saak hoe veeleisend die werk is wat ek moet doen nie – ek werk nie alleen nie, dit weet ek!

My Hemelvader verhelder my gedagtes en inspireer my met skeppende idees.  Sy liefde vloei in my en om my en hef my op.  Sy krag gee aan my die nodige krag waar ek dit ookal mag nodig hê.  Sy orde sorg dat alles, tot in die fynste besonderhede, volgens ‘n volmaakte plan verloop.

Dit wat ek moet doen, handel ek vinnig en maklik af, want ek werk saam met God.  Hoe gelukkig maak hierdie wete my net nie!


Gebed:  Dankie Dierbare Heer, dat U so saam met my werk en vir my krag gee in alles wat ek moet doen.


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: