Thursday 31 October 2013

MY WERK







Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe.  -  Ef.  3:20


As ek baie dinge het om te doen en baie eise aan my gestel word, onthou ek dat my Heer saam met my werk.  As daar iets onaangenaam of moeilik is wat ek moet doen, onthou ek dat ek vír God werk.  Met hierdie wete benader ek al my daaglikse take met ‘n ligte hart, ‘n opgewekte gemoed en ‘n gewillige hand.

Omdat ek vir God werk, is die werk maklik, en kan ek dit doen sonder enige inspanning of moeite.  Dit maak nie saak hoe veeleisend die werk is wat ek moet doen nie – ek werk nie alleen nie, dit weet ek!

My Hemelvader verhelder my gedagtes en inspireer my met skeppende idees.  Sy liefde vloei in my en om my en hef my op.  Sy krag gee aan my die nodige krag waar ek dit ookal mag nodig hê.  Sy orde sorg dat alles, tot in die fynste besonderhede, volgens ‘n volmaakte plan verloop.

Dit wat ek moet doen, handel ek vinnig en maklik af, want ek werk saam met God.  Hoe gelukkig maak hierdie wete my net nie!


Gebed:  Dankie Dierbare Heer, dat U so saam met my werk en vir my krag gee in alles wat ek moet doen.


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 20 October 2013

DIE REGTE PAD






Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.
Spr. 3:6


Het jy dalk by 'n kruispad in jou lewe gekom en jy weet nie watter pad om te volg nie? Wend jou maar net tot die opgestane Christus in jou hart vir leiding en inspirasie.

Hy werk deur my as intelligensie en wysheid. Ek is in staat daartoe om die regte besluite te neem! Hy werk deur my as leiding en openbaarmaking. Ek is geïnspireer! My hart en gemoed is oop vir Sy goddelike idees.

Christus is my innerlike wegwyser. Ek wend my tot Hom in my stil oomblikke van gebed, en ek weet wat om te doen en hoe om dit te doen.

Geen keuse is te moeilik en geen aksieplan te onduidelik as ek op Hom staatmaak vir leiding nie. Die weg wat ek moet volg, lê duidelik en oop voor my, want Christus self laat Sy lig voor my uit skyn op die weg wat ek moet volg.


Gebed: Die Lig van Christus skyn duidelik op my pad!

~ Uit Daelikse Woord ~


Saturday 19 October 2013

KIND VAN GOD






Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het:  Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.  -  1  Joh.  3:1


As ‘n kind van God is ek vriendelik, opgeruimd en vol lewenslus.  Ek is vry, vertrouend, belangstellend en afwagtend.

As ‘n kind van God vertrou ek volkome op Sy beskerming en leiding.  Ek is oop en ontvanklik vir die goeie.  Ek is vry om te ontdek en te ondersoek.  Ek beskik oor die nodige lewenskrag om my doelwitte na te streef.  Ek verwag die regte en lonende resultate.  Ek raak ontslae van alle beperkinge wat ek op my eie vermoëns geplaas het.  Vrolik en bly leef ek soos dit ‘n kind van God betaam om te leef.

Ek is Gods kind, vry om my hoogste ideale uit te leef in die wêreld waar Hy my geplaas het.  Ek streef na sukses en gooi alles in die stryd om dit te behaal.

As ‘n kind van God is ek vrolik, vol vertroue en vry!


Gebed:  Ek is Gods kind, vrolik, vry en vol vertroue.


~ Uit Daelikse Woord ~

Friday 4 October 2013

DIE VERLOSSING







Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.  -  2 Kor. 5:17


Hoe heerlik!   Nou wéét ek dat ek aan Christus behoort.   Ek weet ek is nie volmaak nie, en het nog ‘n lang pad vorentoe in my geloofslewe, maar ek weet óók, ek is besig om te bou aan die Tempel van God – my eie Tempel – en niemand kan my meer daarin aan bande lê  nie, of my laat twyfel in die egtheid van die pad van Lig wat ek betree het die dag toe ek Christus my hart laat binnekom het, as my Hulp en Ondersteuning, my Leidsman, my eie Broer en Boesemvriend – my sommer *ALLES*!

Soos die son wat elke oggend oor die horison opkom, so kom die heerlikheid van die Here oor my op.  Elke dag staan ek stil en aanskou die verlossing wat al hierdie lig bring, en my siel sing in my van vroeg tot laat, en ook sommer deur heel die nag.

Heer van my hart, my dank ken géén perke nie!  Ek weet nou U het U intrek in my hart geneem – ek weet U bou hierdie Ligtempel wat ek nou is saam met my van dag tot mooie dag, en help my om die lig te sien in elke ervaring in my lewe – die oorwinning in elke uitdaging – want U is mét my!


Gebed:  Ek is verlos!  ‘n Nuwe mens!  Dankie, Dankie, Dankie!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 2 October 2013

KIND VAN LIEFDE






Julle moet mekaar liefhê.  -  Joh. 13:34  (Jesus)


Ons kan al die Lig sien wat daar te sien is, ons kan al die kennis en wysheid hê wat daar te kry is, maar as daar nie liefde in ons hart is nie, dan baat dit ons alles niks.  Ons sal niemand toelaat in ons klein kringetjie nie – ons sal nie tevrede wees daarmee om maar net ‘n vriendelike tuiste te skep, of kinders gereed te maak vir volwassenheid nie, want sonder liefde in ons hart, sal ons niks kan gee vanuit die oorvloed wat ons ontvang vanuit ‘n Dierbare Vaderhart vol liefde nie.


Maar die wonder – wanneer liefde die hart van die mens binnevloei, is al die liefde wat ons so mildelik deel met andere, ‘n magneet wat Christus al hoe nader en nader trek na die aarde toe.  En hoe meer harte so vol liefde, vrede skep in hul eie lewens, in hul gemeenskap en hul wêreld, hoe sterker word die magneet wat Liefde is, in ons en om ons.  Dit smelt saam met die liefde uit al die kinders van Liefde en Lig wat vandag en elke dag saam bid, in ons eie land en orals in die wêreld, en Christus beweeg al hoe nader – een van die dae is Hy hier tussen ons!


Gebed:  Met U in my hart, Heer, is ek liefde.




~ Uit Daelikse Woord ~




KIND VAN DIE LIG






Julle is die Lig vir die wêreld.  -  Matt.  5:14


Die Lig van God verhelder my gedagtes en my hele liggaam baat daarby.   Vanaf my brein word lig-gedagtes uitgestuur deur heel my wese, en elke atoom, elke sel, elke orgaan, word daardeur geraak, en daar waar ek nie kan sien nie, daar begin die lig te skyn, helderder en helderder.


Met hierdie wonderlig, is daar geen beperkings aan wat ek kan vermag op hierdie aarde nie, ongeag waar ek woon of werk of wat my ouderdom is, want God is my lig – Hy is in my, met my en rondom my – Hy lei my en rig my elke tree van die pad wat ek moet loop.  Ek volg hierdie lig, en hoe meer ek dit volg, hoe duideliker *sien* ek dit, en hoe meer *word* ek dit.


Elke oomblik van elke dag sal ek die lig *wees* wat ek sien, en ek onthou, geen taak is te gering voor die oë van God nie.  Om net harmonie en lig te bring in my huis, is alreeds ‘n groot en belangrike taak.  Om kinders te lei en gereed te maak vir volwassenheid, is nog ‘n groot taak.  Wat ookal my werk of verpligtinge, as ek die lig kan sien en dit kan wees, is ek ‘n volwaardige kind van die lig!


Gebed:  Ek is ‘n kind van die Lig!


~ Uit Daelikse Woord ~



KIND VAN GOD




Laat die kindertjies na My toe kom ... want die die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.  -  Luk. 18:16


Om my ware identiteit te ken, is om my te ken soos God my ken.   Ek is ‘n geliefde kind van God!


Ek is ‘n stralende kind van die lig.   Die lig skyn helder in my en om my, en voorsien my van al die wysheid wat ek ooit mag nodig hê.   Ek is wys.


Ek is ‘n vrolike kind van die lewe self.  Die lewenskrag van God pols in elke sel en atoom van my liggaam.   Ek is vol lewe!


Ek is ‘n gelowige kind van die liefde.  Intuïtief en met volle oorgawe gee ek hierdie liefde aan alles en almal om my.   Ek is liefdevol.


Ek is ‘n kind van vrede.   Die vrede van God vloei in my en deur my, en dit skep ‘n klimaat van vrede om my,  om my land en om my wêreld, dag na mooie dag.  Ek is kalm en rustig.


Wat ‘n heerlike avontuur is dit nie om myself te leer ken soos God my ken nie!  En hoe meer aandag ek hieraan in my gebede gee, hoe meer tref die waarheid van hierdie wonder my!


Gebed:  Ek is ‘n stralende kind van God!


~ Uit Daelikse Woord ~