Sunday 30 September 2012





‘N BABA-BRIEFIE AAN LIEWE JESUS


Kan ek laggies kry
     Toegedraai met vonkel sterretjies wasem?

Kan ek lippies kry
     Toegedraai met engel stemmetjies?

Kan ek ogies kry
     Toegedraai met ver-sien-liggies?

Kan ek ‘n neusie kry
     Toegedraai met bly-maak-geurtjies?

Kan ek handjies kry
     Toegedraai met sag-vat-omgee?

Kan ek voetjies kry
     Toegedraai met gou-stap-vrolikheid?

Kan ek ‘n hartjie kry
     Toegedraai en propvol Liewe Jesus Liefde?

Kan ek ‘n verstandjie kry
     Toegedraai met ek-mag-mens-wees-drome?









NOU!


Dit is die dag wat die Here gemaak het;  laat ons daaroor juig en bly wees.  -  Ps. 118:24


Nóú, hierdie oomblik, is ‘n baie spesiale tyd in ons lewens.  Dit is so spesiaal omdat ons nóú deel uitmaak van die lewe.

Die verlede is reeds geskiedenis.  Ons kan dit nie meer verander nie, maar ons kan daaruit leer en met meer wysheid vooruitgaan.  Die toekoms is vol moontlikhede.  Ons kan egter net so min in die toekoms leef as wat ons in die verlede kan leef, daarom is dit wat ons nóú doen so uiters belangrik.  Dít wat ons op hierdie oomblik dink en doen, bepaal ons toekoms.  As ons dus ‘n aangename, suksesvolle toekoms begeer, moet ons nóú die fondamente daarvoor lê.

Ons spits ons aandag toe op hierdie oomblik.  Elke situasie benader ons met die wete dat ons besig is om ‘n mooi, ryk toekoms te skep.  Hoe meer ons die belangrikheid van die hede besef, en die unieke waarde van elke oomblik, hoe gelukkiger en ryker sal ons lewens word.  Ons juig en is bly oor die heerlike nóú!


Gebed:  Ek juig en is bly oor die heerlike nóú!


~ Uit Daelikse Woord ~






Saturday 29 September 2012





BID VIR ANDER


Bid vir mekaar.  -  Jak. 5:16


“Vandag Heer, dra ek my geliefdes op aan U.  Niemand weet beter as U wat hulle nodig het nie – niemand weet beter as U wat tot hul hoogste heil is in die skool wat ons die lewe noem nie.

Ek vra nie dat U sekere dinge vir hulle moet gee en ander weerhou nie, Heer, want wanneer ek begin eise stel, hou ek dalk die goeie wat U vir hulle in gedagte het, van hulle weg.

Wees net met hulle, elke oomblik van elke dag.  Lei hulle en beskerm hulle in U lig en liefde, en wees U die krag wat hulle die moed gee om op te staan en aan te gaan, al is die uitdagings soms hoe groot.

Dankie, Vader, vir die voorreg om elkeen wat so na aan my hart is volkome in U troue sorg te kan plaas, en te weet, al lyk die weg wat hulle wil inslaan vir my mense-oë soms hóe verkeerd, ek sien hulle soos U hulle sien, en weet, net goedheid en guns sal hulle volg al die dae van hul lewe.”

Geliefde, ek het jou nou veilig in Gods sorg geplaas.  Daar is vred in my hart sover dit jou aangaan, en ek sê dankie, want Hy is nou jou hulp, jou sterkte en jou seker Leidsman.


Gebed:  Ek dink aan jou met liefde, ek bid vir jou met geloof.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 27 September 2012





LIG-GEDAGTES


Ons het die Gees van Christus.  -  1 Kor. 2:16


Hier is my gedagtes, Heer.   Maak dit God-gerig,  Liefde-gerig,  Lig-gerig,  want dan, weet ek, sal my woorde en my dade ook God-gerig,  liefde-gerig en lig-gerig wees.   Dankie, Heer, ek weet U het my gehoor.

Met my gedagtes God-gerig, Heer, lei U my tot binne-in Gods koninkryk van lig, van liefde en van krag – ons drie diamante so nodig vir elke kind van die lig hier op aarde.

Met my gedagtes liefde-gerig, Heer, word ek omskep in ‘n omgee-mens, in staat daartoe om andere op te hef met my ligbring-liefde en ligbring-woorde.

Met my denke lig-gerig, Heer, word elke gedagte wat ek dink, omskep in ‘n lig-gedagte.  Lig-gedagtes, gekleur met liefde, bring wysheid mee, en die wysheid wat ek openbaar in my woorde en in my dade, sal vrede tot gevolg hê, in my en om my.

Dankie, Heer, vir U Gees binne-in my, wat, as ek dit my eie maak, die lewe vir my en almal om my, ook in my wêreld, omskep in ‘n lig-lewe.


Gebed:  Ek leef in die Gees van Christus.


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 26 September 2012





LAAT LOS LAAT GOD


Met sorg het U oor my gewaak.  -  Job.  10:12


Een van die moeilikste eise wat ooit aan my gestel kan word, is om ‘n einde aan ‘n verhouding of ‘n leefwyse te maak wat ek gedink het reg en goed is vir my.  Hoe moeilik dit ookal mag wees, in my hart weet ek dat daar net een weg oop is vir my as ek weer geluk en vrede wil smaak, en dit is om my geheel en al los te maak van alles.

Ek laat los en laat God.  Ek plaas alles onvoorwaardelik in Sy bekwame hande, en met die wete dat Hy in volkome beheer van my lewe is, is dit vir my moontlik om waardig en kalm te bly, wat ookal met my mag gebeur.  Ek weet dat wanneer een deur voor my toegaan, ‘n ander deur alreeds oop staan en op my wag – ‘n deur wat lei tot nuwe geleenthede en groter seëninge.

Ek laat los en laat God.  My hele lewe, en alles wat my aangaan, tot in die kleinste besonderhede, laat ek in Gods sorg, en ek ontspan en rus in die wete dat, met Hom in beheer, alles vir my ten goede meewerk – al lyk dit soms op die oog af hoe onoorkomelik en uitdagend.


Gebed:  Ek laat los en laat God oorneem.


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 25 September 2012





ONTHOU


Hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees.  Julle moet dit as ‘n fees tot eer van die Here vier.  – Eks.  12:14


Diep in die stilte van My siel spreek my Heer tot my:  “Jy is Myne en Ek is baie lief vir jou.  Daar is niks wat jy kan doen wat My liefde vir jou kan laat afneem nie.  My liefde is nie van hierdie wêreld nie -  dis ‘n suiwer, diep liefde, en niks kan ooit tussen ons kom staan nie.

“As dit ooit vir jou voel die uitdaging voor jou is te groot om te hanteer, onthou net wie en wat jy werklik is – My geliefde – en vir My is jy baie nodig en belangrik op die plek waar Ek jou geplaas het.  Vir geen oomblik sal Ek jou in die steek laat nie.  Elke tree wat jy neem sal Ek jou lei, en as jy luister en wandel in My lig, sal jy soms verbaas staan voor die wonder van My werke in jou, deur jou en om jou.

“Laat My liefde in en deur jou skyn, en jy sal ‘n baken van liefde en lig wees vir almal om jou.  ‘n Lig so helder dat andere ook daardeur geseën word, ‘n liefde so skoon en diep, dat andere ook daarin rus vind vir hul moeë siel.  Kyk, Ek is hier by jou!”


Gebed:  In U liefde Heer, staan ek sterk!


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday 24 September 2012





DANKIE,  VADER!


God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vregde doen.  Dit is ‘n gawe van God.  -  Pred. 5:18


My hart is vol lof en dankliedere vir U.  Dankie, Heer, vir seldsame oomblikke – die wonderlike oomblikke in my lewe wanneer ek kykies in U heerlikheid kry.

Dankie, Heer, vir onderwysers en leraars wat deur hulle inspirasie so baie daartoe bydra om my lewe te vorm.

Dankie, Heer, vir vriende en medewerkers wat deur hulle voorbeeld vir my leer wat om te doen en wat om nie te doen nie.

Dankie, Heer, vir die gawe van liefde wat my lewe verryk en van elke dag ‘n lewensavontuur maak.

Ek sien U liefde in die glimlag van ‘n baba.

Ek voel U liefde in die handdruk van ‘n vriend in tyd van nood.

Ek dank U, Hemelse Vader, vir U gawes van vreugde, gesondheid, krag, vrede en onmeetlike rykdom.


Gebed:  Vir U gawes Heer, dank ek U!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 23 September 2012





NET VIR VANDAG


Dit is die dag wat die Here gemaak het;  laat ons daaroor juig en bly wees.  -  Ps. 118:24


Net vir vandag sal ek onthou om my nie te bekommer of vir enigiets bang te wees nie.  Ek sal geduldig en vol vertroue wees.  Ek sal my gedagtes positief hou, en sal liefdevol, verstandig, vol harmonie en begrip wees – ek sal ‘n omgee-mens wees!

Net vir vandag sal ek blymoedig doen wat van my verwag word.  Klein dingetjies sal vir my geluk bring.  Ek sal met oorgawe ontslae raak van ou  ongelukkige gedagtepatrone, en dit vervang met vrolike, verkwikkende lig-gedagtes.  Van alles wat nie opbouend van aard is nie, sal ek ontslae raak in wat ek dink, en wat ek sê en doen.

Net vir vandag sal ek nie aanhou tob oor siektes en skete nie.  Ek sal dankie sê vir Gods lewenskrag wat klop in my hart en vloei in my are, en heel en genees so ver dit gaan.

Net vir vandag sal ek nie met nostalgie verlang na die verlede of uitsien na die toekoms nie, want vandag is die mooiste dag wat die Here gemaak het!


Gebed:  Dankie, Heer, vir hierdie mooi dag wat U gemaak het!


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 22 September 2012






GOD MET MY


Hy lei my in die spore van geregtigheid.  -  Ps.  23:3  OV


Psalm 23 herinner my so mooi daaraan dat my Heer altyd met my is – Hy lei my, Hy verkwik my siel en is my herder, vandag, môre en elke dag.

Hy loop elke tree saam met my – nooit is ek alleen nie.  Hy is en bly my volmaakte metgesel.  Alle duisternis op my pad word lig in Sy helder stralende lig, en daar is geen onheil wat ek vrees nie.

Hy lei my in die spore van geregtigheid.  Wat ek doen en waarheen ek gaan is van geen belang nie, Hy is altyd daar om my te lei en te rig op al my weë.  By my werk of tuis, ek voel altyd veilig in Sy liefde en lig in my en om my.

Hy verkwik my siel in my stil tye saam met Hom, en die krag my daar toebedeel, bly my by dwarsdeur die dag en elke oomblik van die nag.  In my hartseer is Hy my rots – in sukses juig Hy saam met my.


Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie.  Dankie Heer, vir U – dankie vir U stok en U staf, dankie dat U altyd so met my is.


Gebed:  U Heer is my herder.


~ Uit Daelikse Woord ~






"EK GLO"

Ek glo...als gebeur met tyd - in - tyd.

Ek glo...in beloftes wat saak maak.

Ek glo...ek sal antwoorde vind wat in my hart lé.

Ek glo...in wonderwerke, niks het nog by JESUS verander nie.

Ek glo...in die son al skyn dit nie altyd vir my nie.

Ek glo...in liefde wat als bedek.

Ek glo...in GOD selfs as HY stil is want .........dan is dit die tyd wat HY my dra.

D A A R O M

glo ek...want ek weet HY is altyd in beheer!





Friday 21 September 2012





NUWE LEWE


Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.  -  Jes. 40:31


As ek op die Here vertrou, kry ek nuwe krag – krag wat my laat vlieg met arendsvlerke, wat my laat hardloop sonder om moeg te word!  Wat ‘n heerlike belofte hou hierdie teks nie in nie!

Maar hoe vertrou ek op die Here?  Deur stil te word.  Stil in gebed voor die Heer van my hart.  Stil en ontspanne laat ek die lewenskrag van God onverstoord en kragtig in en deur my vloei.

Slegs een minuut is nodig om stil te word en Sy kleed aan te raak, een minuut van gebed om opnuut gevul te word met nuwe krag en ywer.  Elke gebed, of dit nou kort of lank is, is genoeg om y te verkwik na gees, siel en liggaam.  Dit is ‘n tyd van rus, van hernuwing, van lof en dank, en dit vul my met ‘n heerlike gevoel van blydskap en vrede.  Die lewenskrag wat my binnestroom elke keer as ek stil word in gebed, bring ook heling mee waar en wanneer dit benodig word in my lewe.

Of ek nou werk of slaap, hierdie lewegewende krag vloei my steeds binne.


Gebed:  Ek vertrou op die Heer en kry nuwe krag!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 20 September 2012





NOG VOORDAT EK GEBORE  IS



U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Psalm 139:16 



Dit is nie deur noodlot, toeval of selfs sameloop van omstandighede dat jy vandag op hierdie spesifieke oomblik asemhaal nie! 

Jy leef omdat God jou wou maak. 

Daar is iets van God wat deur jou unieke karakter skyn.

Onthou dat God jou gemaak het omdat Hy jou lief het, jy is sy spesiale skepsel. 

Jy sal eers jou lewensdoel waarlik ontdek wanneer God die verwysingspunt in jou lewe word.



Gebed: Ons hemelse Vader, dankie vir u wonderlike plan met my lewe! Dankie dat U my met ‘n doel gemaak het. Help my om te aanvaar dat u in u wysheid vir my die beste ouers, voorkoms, gawes en opvoeding gekies het. Amen









Gedagte vir vandag. EK IS Liefde;

EK IS Vrede;

EK IS Genade;

EK IS Vreugde;

EK IS die Weg,

die Waarheid en die Lewe;

EK IS die Lig;

EK IS jou Vertrooster;

EK IS Krag;

EK IS die Skepper;

EK IS die Alfa en die Omega –

Die Begin en die Einde.”

Ek is jou Hemelse Pappa!







ONTWAAK MY SIEL

Ontwaak my siel!
Kyk na die skoonheid
van Gods wêreld om jou.
Luister na die melodie
wat die koms van ‘n
nuwe dag aankondig.

Ontwaak my siel!
Die lig van God straal
in jou en deur jou.
Die liefde van God
vloei jou hart en gemoed binne.
Wees hierdie wonder-lig en liefde,
elke tree van die weg wat jy moet gaan.

Ontwaak my siel en sê dankie,
want Hy wat oor die heelal heers,
heers ook oor jou!


Tuesday 18 September 2012





LUISTER


Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep. 
1 Petr. 3:12


Hoe groot  die wonder en hoe diep ons dank dat daar altyd Iemand is wat luister na ons hulpgeroep.  Iemand wat ons optel en dra as ons self nie meer kan nie.  Diep in ons binneste heiligdom luister Hy na ons drome en ons hoop, en stil en sag vloei Sy antwoord ons hart binne:


“Jy het My aangeroep, my geliefde kind, en Ek het geluister.  My lig, liefde en krag is daar vir jou, en Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie.

As jy nie op jou eie staande kan bly voor die aanslae van die lewe nie, leun op My, en laat My toe om jou in My krag te onderskraag.

As jy die begrip van ‘n vriend nodig het – kyk, Ek is net hier by jou.  Ek luister – Ek verstaan.

Voel jy eensaam en verlate – Ek vou jou toe in My liefde.

Voel jy die las wat jy moet dra is te swaar, gee dit vir My en ontspan.

Geliefde kind, Ek is hier, en Ek luister.”



Gebed:  Die Here sorg vir my!


~ Uit Daelikse Woord ~








KOM RUS


Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.  – Mark. 6:31


Diep in my diepste wese hoor ek ‘n stem wat saggies fluister:  “Los alles waarmee jy nou besig is, net hier waar jy nou is, en kom rus ‘n bietjie.  Sluit die rumoer en geharwar om jou uit, ontspan en kom na My toe hier waar ek vir jou wag in jou diepste heiligdom van krag – die rusplek van jou siel.

Wanneer ek hierdie stil plek diep in my wese binnegaan, voel dit vir my asof ek tuiskom.  Dis ‘n plek waar ek niks hoef te doen nie behalwe om te rus in Sy ewige arms van liefde – om te luister na Sy sagte stem wat sê: “Hier, my geliefde kind, is die waters waar rus is, wat Ek jou gee.”

En dan, hoe onverklaarbaar dit ookal mag klink, vloei alle kommer en sorge van my af weg.  ‘n Helende krag stroom in en deur my.  Elke sel en atoom van my liggaam word hernu, en met nuwe ywer gaan ek voort met my dagtaak.

Hoe heerlik die wete en hoe diep my dank, dat ek hierdie innerlike plek van rus kan betree waar en wanneer ek wil.


Gebed:  By U Heer, vind ek rus vir my siel!


~ Uit Daelikse Woord ~





Monday 17 September 2012





EK  GLO

Ek glo - alles gebeur met tyd - in - tyd. 

Ek glo - in beloftes wat saak maak. 

Ek glo - ek sal antwoorde vind wat in my hart lê. 

Ek glo - in wonderwerke, niks het nog by Jesus verander nie. 

Ek glo - in die son al skyn dit nie altyd vir my nie. 

Ek glo - dat God storms stil maak, al gaan dit woes in my lewe. 

Ek glo - in liefde wat als bedek. 

Ek glo - in God selfs as Hy stil is want dan is dit die tyd wat Hy my dra. 

D A A R O M!!

Glo ek - want ek weet die Heer is altyd in beheer.








KIND VAN DIE LIG


Christus is in julle,  Hy is julle hoop op die heerlikheid.  – Kol. 1:27


Kind van die Lig, jy wat jou voete op hierdie geestelike pad van lig gesit het, weet jy hoe na aan My jy werklik is?  As jy maar net My lig kon sien wat elke dag so helder in jou, om jou en voor jou uit skyn – as jy maar net kon voel hoe Ek jou hande saggies in myne neem terwyl ons sy aan sy voortstap op hierdie pad van lig – as jy maar net My stem kon hoor wat vir jou vertel van die Vader se liefde so groot en so wonderbaar!

As jy maar kon besef wat Ek en jy saam kan vermag wanneer jy hierdie grootse mylpaal wat jy nou voor oë het, bereik het – die plek waar Ek en jy een word in Gods Lig, Liefde en Krag – sal jy verstaan waarom jy so kosbaar is vir My.  Moenie moedeloos raak as dit volgens jou begrip van tyd te lank neem nie – glo net, en hou aan met aanhou.  Ek sal jou dra oor elke struikelblok heen,  Ek sal jou bystaan deur elke donker nag.  Ek sal jou lig, jou liefde en jou krag wees, totdat jy die volwasse seun/dogter van God is – een met My, jou eie inwonende Christus-self.


Gebed:  Ek kom, Heer!  Hou net my hand styf vas!


~ Uit Daelikse Woord ~






Saturday 15 September 2012





BESKERMD


Die Here dink aan ons.  -  Ps  115:12


Wat ‘n mooi idee om ons dag mee te begin -  Die Here dink aan ons -  en as Hy aan ons dink, is ons mos beskermd.  Vandag gaan ek, sodra ek onveilig voel, sodra ek onseker of bang voel, vir myself sê:  My Heer dink aan my, en weet, wat ek eintlik sê is dit – My Heer is mét my!

Of ek êrens heen op pad is, of tuis bly - My Heer is mét my.  Hy vou my toe in Sy liefde.  Hoe heerlik om so veilig te voel in hierdie land van ons wat so onveilig is.  Hoe heerlik om te weet Hy is steeds aan my sy - My Heer dink aan my!

Ook vir my vriende, familie en geliefdes, ja, ook hulle wat vir my onbekend is en tog saam met my hierdie land bewoon – vir elkeen bid ek:  In Gods liefde is julle veilig!

Hoe diep my dank vir hierdie grootse liefde wat my Vader op my uitstort.  En vanaand wanneer ek my dag afsluit met die gedagte - My Heer dink aan my- Hy is met my,- raak ek sonder kommer aan die slaap, ontspanne in die wete dat ek veilig in Sy troue sorg is!


Gebed:  My Here dink aan my, Hy is met my!  Baie dankie dierbare Vader.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 14 September 2012





TROOS


Ek is dit wat julle troos. – Jes. 51:12  OV


Wat is meer vertroostend as die wete dat Ek net hier by jou is?  Voor jou grootste verlies of ontsteltenis, is Ek hier.  Voor jou grootste uitdaging, is Ek hier.  Ek vou jou toe in My liefde, hou jou staande in My krag, en lei jou voorwaarts in My lig.  En wanneer jy net nie meer kan nie, sal Ek jou optel en dra, tot jy weer op jou eie voete kan staan.

Vir geen oomblik is jy alleen nie – aanvaar dit en vind rus vir jou siel in hierdie grootse waarheid.  Ek is hier om verligting te bring wanneer jy in pyn verkeer, en om jou te kalmeer wanneer jy bang is.

Ek is hier om jou te lei deur die diepste duisternis – na waters waar rus is, lei Ek jou heen.  Ek verkwik jou siel, en lei jou in die spore van geregtigheid.

Ek is hier om toe te sien dat jy geestelik groei deur die uitdagings van die lewe heen.  En omdat Ek elke tree van die weg saam met jou stap, is daar niks wat jy nie in My krag kan oorkom nie.  Weet dit, glo dit, en jy sal ‘n wenner wees in My lig, liefde en krag, altyd daar vir jou!


Gebed:  Ek is ‘n kind van God, toegevou in Sy liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 13 September 2012





NUWE  DAG


Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel.
Ps. 126:2  OV


Hoe mooi is hierdie dag!


Ek is vrolik en bly.  Blydskap sing in my hart, en liefde kyk deur my oë.

Ek gee en ontvang geluk so ver ek gaan.

Ek is energiek en vol lewe, in die lewenskrag van Christus wat in my woon.

My blydskap en liefde is aansteeklik, en dit dra seëninge oor aan elkeen wat my pad mag kruis.

Met ‘n ligte hart gaan ek vandag voort op my pad van lig, en sien net die aangename en die mooie om my raak.

Ek ken die vreugde van ‘n hart wat vir andere omgee.  Ek het mense lief en doen alles in my vermoë om hulle lewens ook aangenamer te maak.

Hierdie blydskap is ‘n borrelende fontein in my diepste wese, en ek jubel en juig oor die wonder daarvan in my en om my.


Hoe mooi is hierdie dag, en hoe diep my dank vir die wonder hiervan wat ek met andere kan deel.


Gebed:  Hoe mooi is hierdie dag!


~ Uit Daelikse Woord ~