Saturday 30 November 2013





WONDER


Dit was die wil van die Vader om die koninkryk aan julle te gee.  -  Luk. 12:32


Die koninkryk wat ons dierbare Vader aan ons gee, maak die lewe ‘n wonder.  Dit is Sy lewe waarin ons lewe en bestaan wat ons van die nodige energie en krag voorsien.  Dit is Sy lewe wat heling bring.  Dit seën ons met liefde, vreugde, vrede, orde en alles wat mooi en goed is, as ons dit maar net wil aanvaar en waardeer.

Is ons miskien moedeloos en bedruk?  Dan is vandag die aangewese tyd om ‘n ommeswaai te maak.  Die lewe is ‘n wonder, met veelvuldige seëninge wat God daagliks op ons uitstort.  Daar bestaan nie ‘n tyd, plek of situasie waarin ons nie gebruik kan maak van die wonderlike eienskappe van Gods lewe om ons te seën en met nuwe krag te vul nie.

Laat ons vandag begin met die volgende gedagte:  “Met vreugde sien ek uit na die wonder wat God vir my in gedagte het!”   Nou is ons gereed om daardie wonder raak te sien en te geniet.  Dankie, Heer, vir die wonder van U lewe wat my so bly maak!


Gebed:  Met vreugde sien ek uit na die wonder wat God vir my in gedagte het.



~ Uit Daelikse Woord ~



Monday 18 November 2013

WOORDE VAN LIG







As jy wysheid het, het jy self die voordeel daarvan;  as jy ‘n ligsinnige mens is, dra jy alleen die las.  -  Spr. 9:12


Vriendelike woorde teenoor my, van familie of vriende, helder sommer my dag op.  Gelukkig kan ek ook dieselfde vir hulle doen!

Met woorde van lig, gebore uit lig-gedagtes, hef ek andere om my op, en die spontane vreugde wat ek in hul oë sien by die aanhoor van sulke mooi woorde, hef my óók op.  Hoe héérlik om die lig van liefde en waardering op iemand na-aan my te fokus.

Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar.  Soos ek andere kan seën en ophef met my mooi woorde, net so kan ek óók vir hulle en vir myself seermaak  met woorde wat nié gebore is uit liefde nie.   Dink net, my eie woorde kan ophef  óf aftakel – dit hang dus van mý af of ek gelukkig met andere gaan saamleef of nie.   Waarom sal ek dan nie alles in my vermoë doen om áltyd vriendelike en opheffende woorde te gebruik nie?  Hiervoor is lig-gedagtes nodig – lig-gedagtes van Christus wat in my diepste heiligdom woon en deur my praat, omskep my woorde in lig-woorde.


Gebed:  U Lig in my gedagtes, dierbare Heer, kan gehoor word in my woorde.



~ Uit Daelikse Woord ~



Sunday 17 November 2013

NALATENSKAP





NALATENSKAP


Al praat ek die tale van mense en engele, maar het geen liefde nie, het ek ‘n klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword.  -  1  Kor. 13:1


Vir 33 jaar het ons Here Jesus na hierdie aarde gekom, en ongeag ál die teenstand en vervolging, was die wêreld daarna nóóit ooit weer dieselfde nie, omdat Hy die grootste wonder van alle wonders vir ons, die mens, nagelaat het.

En hierdie wonder dan?  Dit is liefde – ongeëwenaarde liefde wat Hy van sy Vader ontvang het, wat Hy vir ons nagelaat het as ons dit maar net wil erken, herken en ons eie wil maak!   En dit is só maklik, ons moet net ons hart oopmaak, en Hy sal met al sy liefde en lig sy intrek daarin neem.

Met ‘n hart aan ons Here Jesus Christus toegewy, kan ons ook ons merk maak in die lewe – ons kan sy liefde deel met ons medemens, en die liefdeblommetjies wat ons só saai, is die beste nalatenskap wat enigiemand ooit kan doen.   Elke klinkende metaal en galmende simbaal sal stil word, en ons hartelose wêreld sal  nooit weer dieselfde wees nie, omdat ons hierlangs verby is.


Gebed:  In U liefde, Heer, maak ek ook my merk in hierdie wêreld wat U vir ons gegee het om tydelik in te woon.


~ Uit Daelikse Woord ~






MY LIEFSTE KIND ........................... ♥




My liefste kind ............

Onthou, vir My is jy báie kosbaar.

Wandel in My lig,

en laat die hoekoms

en die waaroms in jou lewe

aan Mý oor.

Ek sorg vir jou!

Na gees, siel en liggaam genees Ek jou

en níks wat nié tot jou hoogste heil is

sal met jou gebeur nie.

In My krag kan jy

elke uitdaging in ‘n geleentheid omskep.

Wees sterk!

In Mý liefde kan jy

die omgee-mens wees

wat jy só graag wil wees.

Wees Liefde!

In Mý lig kan jy

andere met insig en begrip lei.

Wees Lig!

Geliefde, as jy maar net weet hóé

na-aan jou Ek wérklik is!

Kóm, vat My hand!




~ Uit Daelikse Woord ~ 

Monday 4 November 2013

ROEP MY AAN




Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.  -  Jer. 33:3


Wanneer jy My nodig het, onthou, Ek is altyd net hier by jou.  Geen droom is so groot, geen behoefte so klein, dat Ek jou nie kan help om die regte oplossing te vind nie.

Werp ál jou bekommernisse en sorge op My, dra jou drome en jou wense oor aan My, en Ek sal jou rig en lei op die weg wat vir jou die beste is.  Glo dit, geliefde, glo in My en in die werke van My lig,  My liefde en krag in jou lewe.  Dit wat Ek vir jou in gedagte het sal geskied, en jy sal rus vind vir jou moeë soekende siel.  Laat my toe om oor te neem, en weet Ek is in beheer.

Roep  My aan – Ek sal antwoord.  En moenie moedeloos raak as My antwoord nie ooreenstem met dit wat jy verwag nie.  Onthou net, omdat Ek jou lief het en jy vir my baie kosbaar is, is My antwoord altyd vir jou hoogste heil en wat die heel beste vir jou sal wees.

Geliefde, kom vat My Hand, Ek is hier by jou!


Gebed:  Op U Heer, vertrou ek – hou my hand styf vas!



~ Uit Daelikse Woord ~


DIE WAARHEID




God het die mens geskape na sy beeld ... man en vrou het Hy hulle geskape.  -  Gen. 1:27 OV


Wat is die waarheid omtrent my?  Defnitief nie dit wat die mense sien of hoor met hul fisiese oë en ore nie.  My ware self is geestelik van aard, geskep na die beeld van God.  Dit is die Gees van die Here Jesus Christus in my, en vandag gaan ek in harmonie met hierdie grootse en Heilige Teenwoordigheid in my, handel en wandel.

Ek gaan myself fyn dophou, en as ek woorde gebruik wat minder vriendelik is, of stellings maak wat nie positief is nie, gaan ek onmiddellik daarop reageer, want die ware ek is sag en vriendelik en glo in God.  Ek is bewus van die skeppende krag van woorde en gedagtes, en omdat ek net die goeie en die mooie in my en om my wil skep, dink en praat ek vanuit my ware Self.

Hoe heerlik om so te kan lewe!   Wat ‘n ongelooflike voorreg om so ‘n ware Self te hê in wie se krag en liefde ek niemand te na kom nie, maar net vrede en liefde kan saai so ver ek gaan.

“Na U beeld Heer, het U my geskape.  Help my om hierdie beeld uit te dra so ver ek gaan.”


Gebed:  Ek is ‘n geestelike wese op U pad van Lig.


~ Uit Daelikse Woord ~



KYK EN LUISTER




Ek wil die Here prys so lank ek lewe.  -  Ps. 146:2


Is ons so vasgevang in die eise wat elke dag aan ons stel, so besig om ons te haas van die een plek na die ander, dat ons nie eers raaksien hoe mooi alles om ons is nie?  Die skoonheid van Gods skepping gaan sommer net by ons verby.

Kom ons word vir ‘n oomblik stil – maak tyd om te kyk en te luister, en ons sal verbaas wees oor wat God ons skenk!   Die skoenlapper wat so vrolik voor ons verbyfladder, nie lank gelede nie nog ‘n wurm – die voëltjies wat vrolik besig is met hulle nessies – dooie saad wat ontluik in die lieflikste kleure en geure – die vrolik gelag van ‘n kind – te veel om op te noem, is die wonders wat hierdie mooi dag voor ons ontvou.

Wat keer ons om ook op die wieke van Gods liefde en lig, te vlieg soos die skoenlappers, te sing soos die voëltjies, en saam met die blomme hulde te bring aan ons Skepper – wat keer ons?

Kom ons sing en wees bly, want God is nog in volle beheer van sy wonderskone wêreld!


Gebed:  Ek prys die Here so lank ek lewe!


~ Uit Daelikse Woord ~



TROOS





Wat  julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen.  En God wat vrede gee, sal by julle wees.  -  Filip. 4:9


Heer, toe mense getwyfel het aan my en my vermoëns, is dit U wat my voortdurend opgebeur en aangemoedig het.  Toe dit gelyk het asof alles verlore is, het U aan my gewys hoeveel meer daar is en kan wees.  Toe ek gedink het ek sal nooit weer vrede en rus vind vir my moeë siel nie, het U my toegevou in U liefde, en ‘n diepe rus en vrede het my hart binnegevloei.  Toe ek aangeneem het dat ek niks beteken nie, het U vir my gewys hoe waardevol ek vir U en U wêreld is.

U, Heer van my hart, is die antwoord op alles wat ek ooit mag nodig hê.  Wanneer ek U aanroep, is U altyd daar.  Vir ewig saamgebind in die liefde van God, weet ek U sal in die toekoms, soos in die verlede, steeds vir my sorg.

Die vrede en vreugde wat ek ervaar omdat ek leef vanuit U liefde en lig binne-in my, kan nie in woorde omskryf word nie.  U omskep my in ‘n baken van lig en liefde in my land en in my wêreld.


Gebed:  Dankie Vader, dat U altyd so na aan my is.


~ Uit Daelikse Woord ~