Thursday 26 February 2015

Gods Psalm





Die Here is my sterkte en psalm.  -  Psalm 118:14  (OV)

Die ritme van Gods liefde is die agtergrondmusiek vir die ontvouende drama van my lewe.  Onder die leiding van Sy Heilige Gees word ek daagliks gelei op my pad van lig.  Toegevou in die strelende melodie van Gods psalm kan ek nie anders as om sorgeloos en vol vertroue te wees nie.

As ek met blydskap laat gaan en Gods liefde in en deur my laat sing, word ek ‘n oop kanaal waardeur hierdie hemelse melodie ook na ander oorgedra word.  Hoe maklik tel ek die wysie van Gods psalm op as ek stil word en daarna luister!  Hoe maklik val ander nie in en sing en dans saam tot verheerliking van Sy wondersoete Naam nie!  Wat ‘n pragtige duet wanneer ons saam met Sy Gees in ons sing en vir Hom, ons kosbare Hemelkoning, ‘n vreugdesdans doen!

Dit is in die in-stilte-gedeelte lied van die lewe wat die Vader en ek een is.  Dit is hierdie besef wat my sterk maak.  Ek word met blydskap en vreugde verhef en sterk en vry gemaak.

Ek is Gods melodie van die lewe.  Hy sing Sy psalm deur my.

Gebed:  Ek is Gods melodie van die lewe.  Hy sing Sy psalm deur my!

~ Uit Daelikse Woord ~


Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Al die eer aan JESUS!
*Poppie Oosthuizen*

Sensitief vir die Skoonheid van die Skepping





Sensitief vir die Skoonheid van die Skepping
(weer ‘n lang gebed, maar ‘n absolute MÓÉT-lees!)

O Skeppergees,

U wat die skepping versier met kleure en vorme
wat deur geen menslike vernuf nageboots kan word nie,
ek vra U om vandag my hart en my verstand sensitief te maak
sodat ek my opnuut kan verbly in die skoonheid van die wêreld
wat  U gemaak het.
Moet tog nie dat ek vandag deur u mooie skepping sal loop
met oë wat nie sien nie:
Verhoed tog dat die suigkrag van die betonoerwoud
my liefde vir oop ruimtes en groen bome vernietig.
Keer tog dat die plafon en vier mure
van my werkswinkel of kantoor of studeerkamer
my sal laat vergeet van u stralende son
en die wye wolkehemel daarbuite.
Weerhou my daarvan dat, wanneer die res van u skepsels
die nuwe dag met vreugdeklanke begroet,
ék sal opstaan met ‘n suur en somber gesig.
Laat die energie en vitaliteit wat  U in elke lewende wese geplaas het,
vandag ook mý wese deurstraal sodat ek nie sleepvoet en flou-oog
deur die dag sal gaan nie.

Maar gee my tog, bo alles, o Skeppergod,
die genade sodat al die skoonheid óm my
en al die lewenskrag ín my
my sal laat uitbars in ‘n loflied en lofdans aan U,
die Skepper van alles wat bestaan.
O God, u teerheid teenoor u skepsels styg uit ver, ver bo
die selfsugtige en eng liefde wat ons hier op aarde bedryf.
Skenk my tog ‘n oop en gevoelige hart teenoor alles wat lewe.
Keer my as ek enigeen van u skepsels, hoe gering ook al,
harteloos wil seer- of doodmaak.
Maak my veral bedagsaam teenoor kinders, en siekes,
armes, eenvoudiges, gestremdes.
Herinner my, Here,
dat ek alles wat ek
aan een van hierdie “geringes” doen,
in werklikheid aan  Ú doen.

© JOHN BAILLIE


Dierbre Jesus @ Facebook
Al die eer aan JESUS!

*Poppie Oosthuizen*

Tuesday 24 February 2015

Waarom ons bid





Dit is God wat in julle werk.  -  Filip. 2:13 (OV)


Vandag bid ons, en soos die bome wat so kaal en dor daar staan, en tog, diep in die kern van hul stam met magtige werke besig is, al kan ons dit nie sien met ons swakke menseoog nie, só is die werke van God ook in my, jou en almal wat saam bid.

Ons bid, want ons glo in die krag van gebed wat die krag van God vrylaat.  ‘n Krag só stil en sónder basuingeskal, maar tog sterk genóég om ‘n roering in die plante om ons te laat plaasvind, ter voorbereiding van nuwe stralende lewe wat alrééds die voëltjies laat sing en diere laat huppel!

Ons bid, want ons wéét die krag van ons gebede smelt sáám met die krag van álle biddendes dwarsdeur die wêreld – en dit wat ‘n plantjie kan doen, nadat dit bedek was met ‘n sneeulaag deur die koue winter, kan óns ook doen!

Dis die noodsaaklike, lewegewende krag van God, wat álles, óók vir ons, weer jonk en nuut maak vol sterker geloof óóit tevore,  wat ons land, Suid-Afrika, weer jonk en mooi kan maak, en ons wêreld kan red uit die haat, nydigheid en lis wat so ‘n oorhand begin kry het.

Dis waarom ons bid!


Gebed:  Ons bid en God doen die werk in ons lewe en om ons.  Dankie troue Hemelvader!


~ Uit Daelikse Woord ~


Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Al die eer aan JESUS!

*Poppie Oosthuizen*

Tuesday 17 February 2015

Leiding






Terwille van u Naam sal U my voorgaan en my lei.  -  Ps. 31:4


Het jy al ooit gedink of gesê:  “Ek weet nie wat ek moet doen nie?”   Dan het jy seker vergeet dat jy oor die mag beskik om enige tyd, op enige plek, uit die duisternis in die lig in te beweeg.  Die lig van God waarin jy leef, beweeg en bestaan, is altyd daar vir jou, slegs een gedagte, een gebed ver.  Wanneer jy bid, ontvang jy die leiding en die moed en die vertroue wat nodig is om in geloof voorwaarts te beweeg.  Roep Hom aan – Hy luister altyd, en Hy sal vir jou wys wat jy moet doen.

Dink of sê jy ooit: “Ek verstaan nie?”  Jy beskik oor die mag om selfs die mees kwellende vraagstukke op te los, want die alwyse, alwetende Gees van Christus woon in jou.  Bid gerus, want dis jou gebede wat die deur tot insig en begrip voor jou oopmaak, en in Sy liefde sal jy die kalmte en gemoedsrus vind waarna jy soek.

Wanneer jy dus voor ‘n doodloopstraat te staan gekom het, bevestig net – “Laat daar lig wees,” en die pad wat jy moet volg sal voor jou oopgaan.


Gebed:  Laat daar lig wees, Heer.


~Uit Daelikse Woord ~





Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Al die eer aan JESUS!
*Poppie Oosthuizen*

Sunday 15 February 2015

Goue Oomblikke






Die Here is my herder ... na waters waar rus is lei Hy my heen.  
-  Ps. 23:1,2 (OV)

Wat hou my liggaam aan die gang, energiek en vol lewe?  Die kos wat ek eet, natuurlik, en die tye wanneer ek slaap.  Wat hou my siel aan die gang, energiek en vol lewe?  My stil tye saam met my Heer, diep in my diepste heiligdom van krag, natuurlik.

In hierdie stil tyd voor Hom, word my siel gevoed met Gods liefde, lig en krag, altyd daar.  Stil, sonder basuingeskal vloei hierdie hemelse eienskappe in my en deur my, en word ek gevoed na gees, siel en liggaam.  Hier word ek voorberei vir dit wat op my wag in die nuwe dag wat voor my lê – hier ontwaak ‘n lied in my hart.

As ek krag nodig het  voor een of ander uitdaging – is die krag reeds daar, en is ek ‘n wenner.  Wanneer ek liefde nodig het, is die liefde ook reeds daar om my eie seer te stil, en dit is daar om ‘n sagte hand uit te reik na ‘n ander wat ly.  Sou ek begrip nodig hê, is die lig daar om ‘n oplossing te bring vir elke probleem of vraag.  Wat meer het ek nodig om die nuwe dag wat ek binnegaan te geniet?  Goue oomblikke saam met my Heer – net dit alleen!

Gebed:  Dankie, Heer, vir elke goue oomblik saam met U.

~ Uit Daelikse Woord ~ 





Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Al die eer aan JESUS!
*Poppie Oosthuizen*


Thursday 12 February 2015

Betwyfel u die krag van gebed?





Lees Job 21:1-16

Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien?  Watter nut het dit om Hom te aanbid?  -  Job 21:15

Dit is ‘n algemene denkpatroon by baie mense wanneer hulle oor gebed praat wat onbeantwoord bly, om te wonder of dit die moeite werd is of enige doel dien om te bid.  Hulle ken die pynlike gevoel van ontnugtering nadat hulle dringend gebid het om iets wat hulle toe nie ontvang het nie.

Hierdie ontnugtering oor onbeantwoorde gebedek kan teruggevoer word na mense se onkunde in verband met gebed.  Gebed is nie ‘n munt-outomaat waaruit jy dít wat jy wil hê, kan onttrek deur net ‘n muntstuk in te voer nie.

Ware gebed is in die eerste plek die soeke na die koninkryk van God, sy wil  en sy verheerliking.  Jy kan slegs die koninkryk verstaan as jy die Koning ontmoet en jouself aan Hom toegewy het.  Christus moet die middelpunt van jou gebedslewe wees.  Deur Hom kom jy tot die Vader.

Indien jy voel dat dat jou gebedslewe ontoereikend is, is dit tyd vir ‘n bietjie selfondersoek.  Soek jy opreg na die wil van God in jou gebede en jou lewe?  Is Hy vir jou kosbaar bo alles?  Of gebruik jy Hom as ‘n pion in jou eie skaakspel?

Eerlike en opregte antwoorde op hierdie vra, mag jou vertrekpunt na ‘n nuwe, kragtige en betekenisvolle gebedslewe wees.  Dan is jou gebede nie meer vraagtekens nie, maar God buig hulle oop tot uitroeptekens~

Gebed:  Almagtige God, dankie dat  U my deur die krag van die Heilige Gees geleer het dat effektiewe gebed afhang van my verhouding met Jesus Christus, my Verlosser.  Amen

©  Solly Ozrovech
In die holte van God se hand




Jesus ek glo @ Facebook
Al die eer aan JESUS!
*Poppie Oosthuizen*



Wednesday 4 February 2015

Daar is net een God





Waarlik, wie anders as die Here is God?  Ja, wie anders as ons God is ‘n rots?  -  Psalm 18:32


Ons lewe in ‘n tyd waarin godsdiens al hoe meer mens-vriendelik gemaak word.  Ons hoor al hoe meer stemme opgaan dat ons meer verdraagsaam teenoor ander godsdienste moet wees.  Sommige teoloë meen selfs dat ons aan die gode van ander godsdienste erkenning moet gee.

Gelukkig weet die Bybel van beter.  Daar word die feit telkens onomwonde gestel:  Die Here is God en daar ís geen ander nie.  “Voor My was daar geen god nie, en na My sal daar ook nie een wees nie.  Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie,”  sê God self (Jes. 43:10-11).  In Jesaja 45:14 staan daar:  “Waarlik, God is by jou, en daar is geen ander nie, daar is nie nog ‘n God nie.”  Duideliker as dit kan ons dit skaars kry!  Die Here het sy volk dan ook telkens swaar gestraf as hulle Hom vir heidense afgode verruil het.

Daar is ook geen ander manier om by die hemel uit te kom as deur die soenverdienste van Jesus nie.  Hink jy nog op twee gedagtes terwyl jy wonder of Allah en Jehova nie maar dieselfde as God is nie?  Ná vandag kan jy seker wees daar is net één God, dié drie-enige God wat in ons geloofsbelydenis omskryf word:  God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde, Jesus Christus sy Seun, en die Heilige Gees.


Here, ek aanbid U as die enigste God, as Vader, Seun en Gees.  Dankie dat U in my lewe teenwoordig is.  Amen



©  Nina Smit
Bloeisels van Hoop


gepos deur:

Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Al die eer aan JESUS!
*Poppie Oosthuizen*