Sunday 15 February 2015

Goue Oomblikke






Die Here is my herder ... na waters waar rus is lei Hy my heen.  
-  Ps. 23:1,2 (OV)

Wat hou my liggaam aan die gang, energiek en vol lewe?  Die kos wat ek eet, natuurlik, en die tye wanneer ek slaap.  Wat hou my siel aan die gang, energiek en vol lewe?  My stil tye saam met my Heer, diep in my diepste heiligdom van krag, natuurlik.

In hierdie stil tyd voor Hom, word my siel gevoed met Gods liefde, lig en krag, altyd daar.  Stil, sonder basuingeskal vloei hierdie hemelse eienskappe in my en deur my, en word ek gevoed na gees, siel en liggaam.  Hier word ek voorberei vir dit wat op my wag in die nuwe dag wat voor my lê – hier ontwaak ‘n lied in my hart.

As ek krag nodig het  voor een of ander uitdaging – is die krag reeds daar, en is ek ‘n wenner.  Wanneer ek liefde nodig het, is die liefde ook reeds daar om my eie seer te stil, en dit is daar om ‘n sagte hand uit te reik na ‘n ander wat ly.  Sou ek begrip nodig hê, is die lig daar om ‘n oplossing te bring vir elke probleem of vraag.  Wat meer het ek nodig om die nuwe dag wat ek binnegaan te geniet?  Goue oomblikke saam met my Heer – net dit alleen!

Gebed:  Dankie, Heer, vir elke goue oomblik saam met U.

~ Uit Daelikse Woord ~ 





Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Al die eer aan JESUS!
*Poppie Oosthuizen*


No comments: