Thursday 26 February 2015

Sensitief vir die Skoonheid van die Skepping





Sensitief vir die Skoonheid van die Skepping
(weer ‘n lang gebed, maar ‘n absolute MÓÉT-lees!)

O Skeppergees,

U wat die skepping versier met kleure en vorme
wat deur geen menslike vernuf nageboots kan word nie,
ek vra U om vandag my hart en my verstand sensitief te maak
sodat ek my opnuut kan verbly in die skoonheid van die wêreld
wat  U gemaak het.
Moet tog nie dat ek vandag deur u mooie skepping sal loop
met oë wat nie sien nie:
Verhoed tog dat die suigkrag van die betonoerwoud
my liefde vir oop ruimtes en groen bome vernietig.
Keer tog dat die plafon en vier mure
van my werkswinkel of kantoor of studeerkamer
my sal laat vergeet van u stralende son
en die wye wolkehemel daarbuite.
Weerhou my daarvan dat, wanneer die res van u skepsels
die nuwe dag met vreugdeklanke begroet,
ék sal opstaan met ‘n suur en somber gesig.
Laat die energie en vitaliteit wat  U in elke lewende wese geplaas het,
vandag ook mý wese deurstraal sodat ek nie sleepvoet en flou-oog
deur die dag sal gaan nie.

Maar gee my tog, bo alles, o Skeppergod,
die genade sodat al die skoonheid óm my
en al die lewenskrag ín my
my sal laat uitbars in ‘n loflied en lofdans aan U,
die Skepper van alles wat bestaan.
O God, u teerheid teenoor u skepsels styg uit ver, ver bo
die selfsugtige en eng liefde wat ons hier op aarde bedryf.
Skenk my tog ‘n oop en gevoelige hart teenoor alles wat lewe.
Keer my as ek enigeen van u skepsels, hoe gering ook al,
harteloos wil seer- of doodmaak.
Maak my veral bedagsaam teenoor kinders, en siekes,
armes, eenvoudiges, gestremdes.
Herinner my, Here,
dat ek alles wat ek
aan een van hierdie “geringes” doen,
in werklikheid aan  Ú doen.

© JOHN BAILLIE


Dierbre Jesus @ Facebook
Al die eer aan JESUS!

*Poppie Oosthuizen*

No comments: