Tuesday 18 September 2012





KOM RUS


Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.  – Mark. 6:31


Diep in my diepste wese hoor ek ‘n stem wat saggies fluister:  “Los alles waarmee jy nou besig is, net hier waar jy nou is, en kom rus ‘n bietjie.  Sluit die rumoer en geharwar om jou uit, ontspan en kom na My toe hier waar ek vir jou wag in jou diepste heiligdom van krag – die rusplek van jou siel.

Wanneer ek hierdie stil plek diep in my wese binnegaan, voel dit vir my asof ek tuiskom.  Dis ‘n plek waar ek niks hoef te doen nie behalwe om te rus in Sy ewige arms van liefde – om te luister na Sy sagte stem wat sê: “Hier, my geliefde kind, is die waters waar rus is, wat Ek jou gee.”

En dan, hoe onverklaarbaar dit ookal mag klink, vloei alle kommer en sorge van my af weg.  ‘n Helende krag stroom in en deur my.  Elke sel en atoom van my liggaam word hernu, en met nuwe ywer gaan ek voort met my dagtaak.

Hoe heerlik die wete en hoe diep my dank, dat ek hierdie innerlike plek van rus kan betree waar en wanneer ek wil.


Gebed:  By U Heer, vind ek rus vir my siel!


~ Uit Daelikse Woord ~





No comments: