Wednesday 12 September 2012





‘N  UITWEG


Die weg van God is volmaak.  -  2 Sam. 22:31  OV


Dit is wat ek vir myself sê en wat ek glo, wanneer  dit lyk asof daar geen uitweg is vir my probleme nie:  “Daar ís ‘n uitweg!”  

In plaas daarvan om na al die redes te dink, waarom iets onmoontlik lyk en moedeloos en verslane te voel, herinner ek my daaraan:  “Daar ís ‘n uitweg!”   En dan dáárna bepaal ek my tot dít wat ek in ‘n gees van moed en vertroue móét  doen.

In die gees kan ek blymoedig voortgaan, want ek weet dat God met my is;  dat Sy lig my lei;  dat Sy liefde my ondersteun en Sy krag my beskerm.  Sy teenwoordigheid omvou en versterk my!

Ek laat vaar alle bekommernis en twyfel in Sy troue Vaderhande en is vreesloos en vol vertroue.

Dit maak nie saak wat die behoefte of probleem is nie, daar is ‘n oplossing –  moontlik nie die een wat ekself in gedagte het nie, maar wel die regte oplossing in Gods plan vir ons volgens Sy wil, wat vir ons ten goede sal uitwerk, want ons kan net sien tot by die eerste draai in die pad, maar God ken ons hele lewenspad vorentoe.

Daar is ‘n uitweg in Gods liefde en lig!  Hand aan hand met God, is daar altyd ‘n uitweg!


Gebed:  Daar is ‘n uitweg!  Bly by my Heer!  By U is ek veilig!


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: