Monday 10 September 2012




Photo:  Courtesy of  Jenifer Bunnett
LIG


Ek is die lig vir die wêreld.  Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.  -  Joh. 8:12


Soos die blare van ‘n plant reik na die lig van die son, so reik ons na die lig van Christus wat diep in ons wese blom.  Soos die son die wêreld om ons verlig, so verlig Hy ons innerlike wêreld, en as ons Hom volg, en hierdie lig ons eie maak, sal ons nooit in die duisternis lewe nie, maar die lig hê wat lewe gee.  Wat ‘n heerlike belofte opgesluit in hierdie teks!

In tye van duisternis, in tye waarin groot eise aan ons gestel word, in tye van droefheid of smart, mag dit vir ‘n wyle voel asof alles om ons donker geword het, maar niks kan hierdie lig uitwis nie.  Dit skyn steeds helder in ons.  Soos die saadjie wat ontkiem en groei, sal dit deur die donkerste wolk breek, en ons vul met nuwe lewe en krag.  Dit verhelder ons verstand, seën ons met lig-gedagtes, en maak ons sterk en gesond.

In hierdie stralende Christus-lig leef ons, wandel ons en groei ons.  Dankie, Vader!


Gebed:  In U lig, Heer, leef ek en wandel ek.


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: