Thursday 6 November 2014

Heerlike Wete



Ek het die Here gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered. - Ps 34:5 OV


Wanneer ons begin bekommerd raak oor een of ander situasie, gaan ons net ons diepste heiligdom binne.  Ons soek ons Heer, ons vind Hom en plaas ons las net so in Sy hande. Hy wat die liefde self is, neem oor. Daar kom rus in ons gemoed, en ons besef opnuut *hoe* groots Sy liefde werklik is.

God het ons lief!  Hy praat met ons in 'n taal wat ons siel verstaan, en die heerlike wete dat Hy in beheer is van ons lewens en alles wat ons aangaan, neem pos in ons denke.

God het ons lief! Al kan ons dit nie in soveel woorde hoor nie, Sy boodskap van liefde kom helder en duidelik na ons toe - ons weet dit met ons hart en ons verstand. 'n Heerlike wete wat ons dae mooi en ons lewens vol en ryk maak.

God het ons lief! Geen probleem is onoorkomelik nie - geen bedreiging groot genoeg om ons met vrees en kommer te vul nie. Al wat saak maak - die enigste ding wat saak maak - is dat God ons lief het en ons nooit sal begewe of verlaat nie!


Dankie, Heer, vir die wonderlike wete dat U ons liefhet!


~ Uit Daelikse Woord ~





1 comment:

Vicki Fourie said...

Hi Poppie,

U het 'n boodskap vir my gelos ivm my dagstukkies wat op voelgoedwinkel.co.za adverteer word.
Ek kan ongelukkig nie daardie boodskappe lees nie.
Stuur gerus die boodskap via my website www.vickifourie.blogspot.com

Groete,