Wednesday 29 May 2013





GOD  DIE  HEILIGE  GEES


Lees  -  Johannes  16:5-15


Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die waarheid lei.  Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig  (Joh  16:13-14).


Die Heilige Gees is die derde Persoon in die Drie-een-heid.   As die Vader God-bo-ons en Jesus God-met-ons is, kan ons sê dat die Heilige Gees-in-ons is.   Deur sy Gees woon God self in elke kind van Hom.

Die Heilige Gees wys vir ons altyd na Jesus, lei ons in die waarheid en verheerlik Christus.  Hy bring ons dus by God uit.  Hy bewerk geloof in ons harte en waarsku ons wanneer ons verkeerd doen.   Hy leer ons bid, tree vir ons by God in en leer ons hoe om te lewe.   Dit is ook die Heilige Gees wat aan ons die genadegawes uitdeel waarmee ons God in ons lewens moet dien en eer, en wat vir ons die sekerheid in ons harte gee dat ons kinders van God is.   As ons Hom toelaat, sal die Gees ons hele lewe beheer sodat ander vir Christus sal raaksien in wat ons sê en doen.

Is die Heilige Gees só ‘n werklikheid in jóú lewe?


Gebed:  Gees van God, dankie dat U in my woon, my verseker dat ek God se kind is, my teen sonde waarsku, my leer bid en vir my intree by God.


*Die Heilige Gees lei my in die waarheid.*


Die Gees in ons laat die donkerte in ons lig word.   Hy verander die starheid van ons geloof in polsende lewe.   Hy maak Jesus Koning!


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~





No comments: