Monday 29 April 2013





GOD  SIEN  JOU  RAAK


Lees – Psalm 32


Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg.  Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou  (Ps 32:8).


Miskien het jy nog kleuters in die huis oor wie jy elke oomblik jou oog moet hou.  Of tieners vir wie jy raad moet gee – raad wat hulle nie altyd gewillig is om te volg nie.  Vandag se teksvers sê vir jou dat God só sy oog oor jóú hou;  dat Hy só vir jóú ook wil raad gee.

Die Bybel verseker ons op só baie plekke van God se liefde en beskerming dat ons nóóit daaraan mag twyfel nie!  God self sê dat ons vir Hom kosbaar is (Jes 43:4);  dat Hy elke tree sien wat ons gee – of dit ‘n tree op die regte pad is óf op ‘n verkeerde pad (Job 34:21);  dat selfs elke haar op ons hoof getel is (Matt 10:30).

Ons God het ons so innig lief, Hy sorg en gee oneindig baie om vir ons.  Hy hou sy oog oor ons.  Hy wil ons leer hóé om te lewe.  Daarom kan ons ons in Hom verbly en oor Hom jubel en juig.


Dierbare Hemelse Vader, ek wil U loof vir u diepe liefde vir mý.  Baie dankie dat U oog op my is, dat ek vir U só baie kosbaar is. Ek verdien nie só ‘n volmaakte liefde nie.  Maak my oprég dankbaar daarvoor. Amen


Ek is só belangrik vir God dat Hy élke klein besonderheid van my weet goed of kwaad, of ek dit reeds gedoen het en of dit nog net in my gedagtes is.

(Die mees volmaakte antwoord wat die mens aan God kan gee, is ‘n lofsang).






No comments: