Sunday 21 April 2013





Tien Beloftes uit Tien Gebooie

PDF
Print
E-mail

Omdat Jesus Christus die wet vir ons volkome vervul het, word die Tien Gebooie in Hom tien beloftes aan ons.


Eerste gebod:  Ek belowe jou dat, as Ek die eerste plek in jou lewe inneem, jy geen ander gode sal wil dien nie - Ek sal die eerste en ereplek in jou lewe hê.

Tweede gebod:  As ek in jou hart is, belowe Ek dat jy geen gesnede beeld van my sal maak nie. Dit sal nie nodig wees nie, want jy sal self my beeld dra.

Derde gebod:  As jy My liefhet, sê Jesus, belowe Ek jou dat my Naam nooit ‘n vloekwoord oor jou lippe sal kan wees nie, maar steeds en in alle omstandighede deur jou in ere gehou sal word.

Vierde gebod:  As Ek die ereplek in jou lewe het, belowe Ek jou dat die Sondag die hoogtepunt van die week vir jou sal wees. Dit sal vir jou ’n vreugde wees om kerk toe te gaan – nie om ’n dag om teen op te sien nie, maar om na uit te sien!

Vyfde gebod: As Ek in jou lewe is, belowe Ek vir jou dat dit vir jou ’n voorreg sal wees om jou ouers te eer en lief te hê. Dit sal vir jou nie moeilik wees nie, want agter hulle sal jy My sien wat hulle vir jou uitgekies en geleen het.

Sesde gebod: Ek belowe jou dat jy nooit iemand sal wil seermaak nie, wat nog te sê doodmaak.

Sewende gebod:  Ek belowe jou dat, as jy My liefhet, dit nie moeilik sal wees om aan jou lewensmaat getrou te wees nie. Gee My ’n plek in julle huwelik en Ek sal julle liefde vir mekaar en julle geluk in my hande bewaar en vashou.

Agtste gebod:  As Ek op die troon van jou hart sit, belowe Ek dat jy nie daarop ingestel sal wees om iets van ander te neem nie. Jy sal daagliks vra: Aan wie en waar kan ek aan ’n ander iets GEE?  Maar néém?  Nee, nooit...!

Negende gebod:  As Ek in jou lewe is, sal dit nie meer vir jou lekker wees om van ’n ander kwaad te praat nie. Ek belowe jou dat Ek deur my Gees jou ’n lojale mens sal maak wat van ander geen woord sal sê as dit nie iets goeds kan wees nie.

Tiende gebod:  Ek belowe dat Ek deur my Gees jou so sal vul met dankbaarheid dat jy niks meer sal begeer nie. Jy sal vergenoeg wees met wat jy het, met die besef dat God gee soos wat Hy dit nodig vind en as Hy gee, gee Hy altyd genoeg sodat niks jou sal ontbreek nie.


No comments: