Friday 19 June 2015





Met ‘n Rede


Lees Efesiërs 2:10-13


“God het ons gemaak wat ons nou is:  in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”  -  Ef. 2:10


Wanneer jy die Here as jou verlosser aanneem, word jy ‘n nuwe mens in Christus.  En hierdie nuwe mens is met ‘n rede op die aarde geplaas:  om die pad te loop wat God self in sy Woord vir ons uitgestippel het.

Dit beteken geensins dat jy nou goeie dade moet doen sodat jy gered kan word nie.  Inteendeel, jy het ‘n geskenk – jou redding – ontvang, en nou doen jy goeie dade omdat jy die geskenk ontvang het en dankbaar is daarvoor.

Jy is in sonde ontvang en gebore.  Vir jou wag die dood as straf op jou baie sonde.  Maar Jesus het vir jou gesterf sodat Hy jou sondeskuld in jou plek kon betaal.  ‘n Groter geskenk as dit kan niemand jou aanbied nie.  ‘Van geboorte was julle heidene ... Maar nou is julle een met Christus Jesus.  Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus,”  skryf Paulus in Efesiërs 2:11-13.

Wanneer iemand vir jou ‘n groot geskenk gee of iets spesiaals doen, wil jy graag ook vir hom of haar iets gee of doen om jou waardering te wys.  God het sy Seun prysgegee sodat jy vir altyd kan leef.

Doen jy elke dag die goeie dinge waarvoor God jou bestem het om só vir Hom dankie te sê vir jou verlossing?

Hemelse Vader, hoe kan ek dankiesê vir u groot genade en u liefde vir my?  Ek wil dit graag doen deur van nou af al daardie dinge te doen waarvoor u my bestem het.


Nina Smit  :  Die Groot Dagboek vir die vrou na God se hart


  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!


No comments: