Saturday 12 January 2013





GELOOF

Want  nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig.  -  1 Kor. 13:12  (OV)

Hoe waar is hierdie woorde nie!   Ons sien deur ‘n spieël in ‘n raaisel, sover dit ons eie belange, ons land of ons wêreld se belange aangaan en ons wonder … en soms begin ons twyfel en word dan bang vir die toekoms.

Maar hierdie soort gedagtes en gevoelens is totaal onaanvaarbaar vir ons as kinders van God.   En ons wéét wat die antwoord is op hierdie raaisel.  Ons moet net bid en glo dat God in beheer is, want Hy IS – dit is Sy wêreld waarin ons woon.  Ons moet glo in Gods werke en planne daar waar ons nie kan sien nie, want niks ontgaan God se oë nie.  Ons geloof in die dinge wat ons nie kan sien met ons mense-oë of nie kan verstaan met ons mense-brein nie, is een van die kragtigste maniere om die deur oop te hou vir die Krag van God om sy werke te doen.

In ons gedagtes is daar geen oplossings nie, net verwarring en gevaar, maar in Gods magtige gedagtes lê die Plan en Oplossing duidelik en helder, en met ons geloof hou ons die deur oop vir Hom om sy wonder-werke te doen, in ons en deur ons, deur hierdie boodskap uit te dra na elkeen wat ons pad kruis met angs vir die toekoms in hul harte. Verseker hulle maar net dat God in beheer is, want hy IS!

Gebed:  Ek bid, ek glo, en die Plan van God sal seëvier.

~ Uit Daelikse Woord ~





No comments: