Thursday 29 March 2012





‘N  OMGEE  MENS


Elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees  hom aangedryf het, het gekom.   - Eks. 35:21  (OV)


Toe Jesus sy dissipels uitgesoek het, het Hy nie juis gesoek na die mees opgeleide of hoogs gekwalifiseerde mense nie.  Hy het na mense gesoek wat graag ‘n diens wou lewer in die wêreld – mense in wie se harte die liefde warm geklop het, met ‘n sielsverlange om andere te help.  Anders sou hulle seer sekerlik nie so by Hom gebly het nie!

Soos die dissipels van ouds, klop daar ook in my hart die begeerte om meer te gee – om meer te wees, net hier waar ek is.   Die plekkie waar ek is, is miskien ook nietig en klein, maar kyk net hoe klein was die landjie waar Jesus en sy dissipels so baie gegee het!

Dis die roepstem van my siel wat my hart so oop maak, dis die aansporing van die Heer wat my oë oopmaak sodat ek die behoefte kan sien, en dis die liefde in my hart wat my in staat stel om mildelik in die behoefte voor my te voorsien.  Hoe dankbaar is ek nie!

Dankie, Heer van my hart, vir U liefde so groot wat my ‘n omgee-mens maak!


Gebed:  My hart is vol liefde, en ek gee om!


~ Uit Daelikse Woord ~





No comments: