Tuesday 20 March 2012





GELOOF

Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. - Jak. 1:6

God is alomteenwoordig en Hy is ‘n God van liefde.  Met ons geloof op Hom gevestig, weet ons dus dat daar ook iets mooi en goed skuil in ons medemens.

As ons egter met die bose te doen kry, kan ons geloof soms wankel.  Dit mag jare neem voordat ons besef dat daar ook in daardie onaangename ervaring verborge seëninge vir ons geskuil het.

Laat ons vandag 'n punt daarvan maak om deurgaans vas te staan in ons geloof in God en in Sy goedheid, ongeag enige negatiwiteit waarmee ons te doen kry, of dit nou 'n berig is oor die nuus, 'n gesprek met iemand anders of iets wat ons gelees het. Ons weet God is in beheer van Sy wêreld, en net goedheid en guns sal ons en ons medemens volg, al die dae van ons lewens.

Hoe meer ons gelowig daarna streef om net die goeie en die mooie in alles te sien, hoe sterker sal ons geloof word.

Gebed: Ek glo Heer, laat U wil geskied.

~ Uit Daelikse Woord ~


No comments: