Thursday 15 March 2012





DIE ANTWOORD

‘n Mens moet gelowig bid en nie twyfel nie.  – Jak. 1:6

Al is die uitdaging voor my hoe groot, daar is altyd ‘n plek waarheen ek my kan wend vir ‘n antwoord, en opnuut oortuig kan word dat Gods ordelike plan heers in my lewe, hoe deurmekaar alles ookal skyn te wees.  “Is U daar, Heer?  Kan U my hoor?”  bid ek, net om seker te maak dat Hy wel daar is, en my hoor.  ‘n Rus en vrede wat nie van hierdie wêreld is nie, vul onmiddelik my hart en gemoed.  Dis Hy!  Dit weet  ek, en met die ore van my siel, luister ek na sy sagte stem diep in my wese:

“Ja, my geliefde kind,  Ek is hier, en Ek luister.  Laat jou hart nie ontsteld wees nie, want Ek weet wat jy nodig het, nog voordat jy vra, en omdat jy My kind is in wie Ek ‘n welbehae het, sal Ek toesien dat alles in jou lewe ordelik en volgens plan verloop.

“Niks wat nie van die lig is nie, kan staande bly voor My helder lig nie.  Laat My lig in jou denke duidelikheid bring in elke uitdaging, voor elke eis, en Ek sal jou ‘n wenner maak.  Kyk, Ek bou ‘n muur van lig om jou, en geen aanval van wie ookal, kan jou raak nie.  Onthou, Ek is hier – Ek is altyd hier!”

Gebed:  Ek bid, ek glo, en ek sê dankie dierbare Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~





No comments: