Thursday 15 March 2012





LUISTER

Dit is my geliefde Seun.  Luister na Hom.  – Mark. 9:7

God praat met my wanneer ek met my hele hart en siel daarna smag om Hom beter te leer ken.  Dis sy manier om my te roep, om my te laat ontwaak tot ‘n vol en ryk lewe, en ek antwoord op sy roepstem deur Hom in alle erns te soek.

God praat met my wanneer ‘n bybelversie of een of ander gedagte of iets wat ek lees, skielik vir my oopgaan en ‘n besondere betekenis kry.  So leer Hy my, en rig  en openbaar Hy aan my ‘n waarheid wat op daardie besondere tyd vir my van groot waarde is.  Hoe diep my dank hieroor!

God praat met my wanneer ek in my soeke na die regte oplossing, die regte weg, skielik voel dat ‘n sekere rigting die regte een is vir my om te volg.

En wanneer ek Hom opsoek diep in my diepste heiligdom, en Sy lig my denke helder verlig, sy liefde my hart vul en sy krag my hernu en verfris, dan ontwaak ‘n lied in my hart, en ek weet:  Hy is die bron van hierdie hemelse melodie – ek is sy geliefde kind, en ek luister!

Gebed:  God praat met my, ek luister en volg Sy lig!

~ Uit Daelikse Woord ~





No comments: