Tuesday 3 April 2012





GEESTELIKE  WESE


Geliefdes, nou is ons kinders van God.  – 1 Joh. 3:2  (OV)


Ons is kinders van God – geestelike wesens op ‘n helderverligte pad van lig!  Hoe meer ons hierdie waarheid ons eie maak, hoe helderder skyn sy lig in ons gedagtes, hoe dieper word sy liefde in ons hart, en hoe gelukkiger en sterker word ons in sy krag.

As ‘n geestelike wese is ons ‘n stralende bron van lig.  Hierdie lig bring vir ons insig en begrip, en lei ons veilig en seker op ons pad van lig.

As ‘n geestelike wese is daar niks en niemand wat ons te na kan kom nie.  Die Lig van die Vader is ‘n pantser om ons, en geen bedreiging kan deur hierdie ligstroom breek nie – ons is veilig.

As ‘n geestelike wese loop ons rond met ‘n hart, rein en skoon in die liefde van die Seun, vriendelik en geduldig, altyd besig om vredeblommetjies te saai omdat ons eie hart oorloop van liefde.

As ‘n geestelike wese staan ons vas in ons geloof in die grootsheid van God, oortuig daarvan dat Hy nog in beheer van sy wêreld is – Hy, ons Almagtige Vader!


Gebed:  Nou is ek ‘n kind van God.


~ Uit Daelikse Woord ~






No comments: