Friday 27 April 2012





Ek moes my ou hondjie vanmiddag laat slapies maak het. Vanoggend het sy allervreesliks begin opgooi. Ek kon dit nie gestop kry nie, alles het uitgekom aanmekaar tot die valoid naarpil. Ek het vanoggend gebel vir die veearts en hy sê toe ek moet kyk hoe dit deur die dag gaan en haar ligte kossies ingee en water. Maar ek het nie eens daarby gekom nie want selfs die watertjies het alles net uitgekom. Sy het later so gehyg na asem en haar hele ou liggaampie het gebewe. Tog het sy so naby moontlik aan my gebly. Ek het haar net gevryf en gevryf. 

Vanmiddag bel ek toe die veearts en sê sy versleg. Toe hy haar ondersoek, sê hy dat sy baie pyn het en dat die kanker versprei het. Tot in haar ou neusie ook, dit het sommer aan die bloei geraak en sy het ook nuwe kanker knop voor haar borsie. Dr sê die een melkkliertjie is ook aangetas. 

Ek is so moeg en so hartseer en so bitterlik alleen. Die huis is so leeg sonder haar en my hande so leeg. Sy het anders as ander kere so doodstil en gelate in die motor gesit toe ons veearts toe ry, maar tog nog geblaf vir honde langs die motor toe ek afgetrek het om dr te bel en te sê dat ons al in die dorp is. Ander kere het sy altyd nog haar ou hondekoppie by die venster uitgesteek. 

Nou het ek nie meer rede om op te staan in die oggend nie. Na my man dood is, was sy daar vir wie ek moes opstaan. Nou het ek heeltemal niks. Ons lewens was so inmekaar en deurmekaar gevleg. Ek kan my nie 'n lewe voorstel sonder haar nie. Sy het nog vir oulaas vanoggend gestukkel om op haar mamma se bedjie te klim. Sy kon nie en toe het ek haar maar opgetel en geliefkoos, maar sy moes baie pyn gehad het want sy kon nie stil lê nie. 

Toe ek regmaak om vanmiddag veearts toe te gaan, toe kom sy swak-swak nog agter my aan. Toe ek haar in die motor tel, sit sy daar net gelate in plaas van die vrolike geblaf soos ander kere as ek haar saamneem as ons motor ry. Dokter sê toe hy haar 6 weke gelede die blaasoperasie gedoen het, het hy nie gedink dat sy nog so lank sou leef nie. 

Ek is so dankbaar dat die Here hierdie 6 weke vir ons saam gegun het om voluit te kan leef en maatjies wees en wat ek my alles vir haar kon gegee het en niks terughou het nie. Sy is begrawe in my tuintjie tussen al haar kombersies en ek sal daardie plekkie die mooiste hoekie in my tuintjie maak. 

Vroeër in die week toe sy so baie, baie siek was en ek nie meer geweet het wat om te doen nie, het ek magteloos vir die Here gebid en vir hom gesê dat dit sy ou hondjie is en dat sy net geleen was vir my om na haar te kyk en dat Hy nou na haar moet kyk, want ek weet nie meer wat om te doen of wat om haar te gee nie (sy het begin om haar noodsaaklike kossies vir haar behoud teen kanker en veral al haar medikasies te weier om in te neem). Ek het hom gevra om haar tog maar saggies as dit Sy wil is te laat gaan want ek wil haar nie laat ly nie. Ek was so moeg daardie aand. Ek het wakker geword die volgende oggend en sy was nog twee daggies vir my gegun. 

Sy is nie slapies gemaak in die ondersoekkamer nie. Dr het dit buitekant in die oopte op die gras gedoen - ek was so dankbaar daaroor. Dit was soort van genadiger op 'n manier. Tog voel ek skuldig en aandadig aan haar dood. Ek voel ook so hartseer en skuldig omdat ek vanoggend 'n naarpil in haar bekkie moes sit. Dit was nooit nodig om te sukkel met haar om pille of medisyne in te neem nie. Sy was so 'n maklike ou hondekindjie van my.


1 comment:

giaonhanquocte said...

Thanks for sharing, nice post! Post really provice useful information!

An Thái Sơn chia sẻ trẻ sơ sinh nằm nôi điện có tốt không hay võng điện có tốt không và giải đáp cục điện đưa võng giá bao nhiêu cũng như mua máy đưa võng ở tphcm địa chỉ ở đâu uy tín.