Friday 6 April 2012





LIEFDE


God het Sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.  - Rom. 5:5


God het ons lief – net hier waar ons is, net soos ons nou is.  Ons hoef onself nie te verander of aan sekere standaarde of eise te voldoen nie – ons is geliefde kinders van ‘n hemelse Vader, en Sy liefde is onvoorwaardelik.

In Sy grootse liefde is ons toegevou, elke uur van elke dag, ongeag die omstandighede waarin ons ons mag bevind. Niks wat ons in die verlede gedoen het, kan Sy liefde vir ons laat afkoel nie. As daar iets is in die verlede wat ons nog hinder, lê ons dit aan Sy voete neer - Sy vergifnis is oombliklik en volkome. Die verlede, bestaan nie meer, en met die hede en die toekoms in Sy liefdevolle hande, werk alles vir ons ten goede mee.

Die liefde van God vloei in ons en om ons. Dit hef ons op, reinig ons hart van alles wat nie van die liefde is nie. Dit heel alle seer van die verlede, en met veerkrag in ons voetstap kan ons voortgaan op ons lewensweg.

Toegevou in hierdie wonder-liefde, is daar vrede in ons gemoed.


Gebed: Dankie dierbare Hemelvader dat U ons toevou in U oneindige liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: