Tuesday 1 May 2012





TROOS


Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos. 
Jes. 66:13  OV


Heer, wanneer ek so stil word hier by U, diep in my diepste heiligdom, voel ek so ná aan U.  U is altyd my troos en my krag, wat ek ookal mag deurgaan.

U weet so goed wat in my hart en my gemoed omgaan – U ken elke vrees en kommergedagte, en net U kan dit stil.  U liefde vul ‘n leemte in my lewe wat deur niks en niemand vervang kan word nie.

Wanneer my geliefdes voor ‘n probleem te staan kom, probeer ek hulle troos en bemoedig, maar soms voel dit vir my of dit wat ek sê en doen net nie voldoende is in hulle uur van nood nie.  Dis dan wanneer ek my tot U wend vir die nodige krag.  U sien toe dat my optrede reg is.  U lê in my mond die woorde wat hulle so nodig het op daardie tyd, en wanneer ek alles gedoen het wat ek kan, is dit U wat nog steeds na hulle omsien.

Heer, U moedig my aan wanneer ek op moedverloor se vlakte sit,  U lei my wanneer dit lyk asof ek die pad byster geraak het.  U, Heer van my hart, is my troos en my sterkte.


Gebed:  By U Heer, vind ek troos en krag.


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: