Thursday 6 February 2014





GENADE


Die vrug van die Gees daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  -  Gal. 5:22-23


Wanneer ek verras word met ‘n geskenk, vir ‘n verjaardag of ‘n huweliksherdenking, besef ek dat dit vir my uit liéfde gegee word, en gladnie omdat ek dit verdien of verwag het nie.  Só is dit ook met die genade van God waarmee Hy my só oorvloediglik seën.

Sý liefde vir my is ónvoorwaardelik, en dit seën my met vreugde, vrede, orde, voorspoed, geluk en véle meer – wonderlike geskenke wat Hy my gee net omdat ek sý geliefde kind is.

Hóé groot my blydskap en hóé diep my dank omdat ek só geseënd is en Hy mý liefhet nie, en hóé graag wil ek nie ál hierdie seëninge ook met andere deel nie!  Met my vriendelike lig-woorde en dade, wil ek sy liefde oordra aan élkeen wat my pad mag kruis.

Wie is daar nog wat nie hierdie hemelse genade nodig het nie?  Wie soek nie vrede, orde en voorspoed in hierdie deurmekaar wêreld van ons nie?  Deur Gods genade, kan ons dit gee en dit moet ‘n brandende begeerte in élkeen van ons se harte wees om dit te doen – élke dag van ons lewe.


Gebed:  Gods genade spoor my aan om só baie te gee – hoor ons Sy roepstem?


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: