Thursday 6 February 2014





God gee werklik om ..............................


Lees -  Job 31:2-15


God hou my paaie dop en tel elke tree wat ek gee.  -  Job 31:4


Toe ek pas begin werk het, het ek ‘n kamer gedeel met ‘n meisietjie wat dolverlief was.  Elke keer wanneer haar vriend op ‘n lang reis moes gaan, het hy die roete vir haar op ‘n padkaart aangedui.  Só kon sy, wanneer sy aan hom dink, presies weet waar hy op daardie tydstip is.  Ek het gereken dat daar van haar varkies weg was.  Tog, toe ek Job 31:4 lees, het ek weer aan dié twee mensies gedink.

Hoe wonderlik is dit nie dat dié God wat hemel en aarde gemaak het, ook intens by my, sondaarmens, betrokke is.  Hy hou nie net my paaie dop nie, maar tel selfs elke tree wat ek gee.  Wanneer ‘n mens aan God behoort, kan jy te álle tye weet dat jou Vader vir jou omgee en liefhet.

Hy weet van ál die geheime wat jy vir die res van die wêreld probeer wegsteek, van die mense wat jou seermaak, die vrese wat jou soms wil oorweldig.  Hy weet wat op jou wag in elke jaar en dag wat voorlê.  Maar wat dít ook al mag wees, Hy sal dáár wees om jou by te staan, om elke tree wat jy gee te tel!


Gebed:  Hemelse Vader, baie dankie dat U ‘n God is wat soveel vir my omgee dat U elke dag my paaie sal dophou.


*God tel elke tree wat ek gee.*




~ Uit Dagboek vir die vrou deur Nina Smit ~




No comments: