Thursday 6 February 2014





SIELE VREUGDE


By U is daar oorvloedige blydskap.  -  Ps. 16:11


Kosbare Hemelheer,  gister het ek gevra – U het my geantwoord, en my blydskap ken géén perke nie!

Ú Here, is die bron van ‘n blydskap dieper as wat ek nog óóit ervaar het en ooit kán ervaar.  Die óómblik toe ek U aanvaar het as my Heer en Meester, het daar ‘n lied in my siel ontwaak, wat deur níks en niémand gestil kan word nie.

Die vreugdelied in my siel vertroos my in my alleen-tye – of ek ek vir die eerste keer alleen woon en of ek dit al vir jare doen.  Soms mag ek voel ek pas nie meer in ‘n vriendekring of tussen my familie in nie, maar dan troos dit my om te weet Ú is net hier by my – in Ú liefde word ek teer  ómvou, versorg en vertroetel.  Daar is níks wat ek alleen tegemoet hoef te gaan nie, want Ú stap élke tree van die pad saam met my.  Dit is waarom my siel sing!  Dankie, Dierbare Heer!

Ú blydskap in my siel maak my gesond.  Dit is ‘n vreugde wat gedurig ín en déúr my straal.  Dit vúl my gemoed en síng in my hart, en maak my gesond na gees, siel en liggaam.

Ú vreugde-lied in my siel, Heer, bring ‘n diepe vrede in my gemoed.


Gebed:  My siel sing in my – dánkie Liefste Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: