Wednesday 19 February 2014





DANKIE  DIERBARE  HEER!


Prys die Here!  -  Ps  147:1


Op hierdie pragtige somersdag dink ek onwillekeurig met ‘n hart vol dankbaarheid aan die tálryke seëninge in my lewe.   Ten eerste dank ek God vir die gawe van die lewe self, wat dit vir my moontlik maak om Sý wêreld te geniet.  Die lewe is ‘n opwindende grootse avontuur, en ek is baie bly om deel daarvan te wees.

Ek dank God vir die skoonheid wat ek oral om my sien, en sê ook dankie vir my innerlike visie waardeur ek myself en andere beter kan verstaan.

Ek sê dankie vir die lied van die voëltjie terwyl dit nog donker was, vir strelende musiek, en vir die stemme van my geliefde familie en vriende.   Ek is ook dankbaar vir die ságte fluistering van God in my hart, wat my verseker dat ek nie bang hoef te wees nie, want Hy is altyd net hier bý my.

Ek sê dankie vir die vaste aarde onder my voete, en die handdruk van ‘n vriend of drukkie van ‘n vriendin.  Ek sê ook dankie vir die ligte aanraking van God, wat ek áltyd en oral róndom my aanvoel.

Ek dank my Dierbare Heer vir alles wat ek mag ervaar in Sy liefdevolle, lig-vervulde wêreld.


Gebed:  Dankie, dankie, dankie Dierbare Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~



No comments: