Thursday 6 February 2014





REËNBOË 


Julle is die lig vir die wêreld.  -  Matt.  5:14


Hoe pragtig die reënboog wat ná ‘n bui reën oor die hemelruim strek.  Die mens gaan staan stil in bewondering voor die kleureprag daarvan.   En tog, hoe asemrowend skoon so ‘n reënboog ookal mag wees, dit bestaan maar net uit kleurlose druppeltjies water wat in die lig van die son vasgevang word, en die mooiste samestelling van kleure weerkaats.

Die druppel self bly presies dieselfde – dit is net die aanraking van die son wat dit skielik so verander dat almal kan sien waartoe dit, saam met miljoene ander druppels, werklik in staat is.  Dit bly ‘n grootse wonderwerk, want wie bepaal watter druppeltjie watter kleur gaan weerkaats om almal saam iets so groots te skep?

En ons?  Kan ons nie soos die druppels ook Gods lig wat in ons en om ons skyn, weerkaats om iets groots te skep nie?  Dit is ‘n hemelse lig wat andere om ons ophef en seën, totdat ons almal saam ook soos die druppeltjies water, ‘n reënboog van liefde en lig skep wat oor heel ons land en ons wêreld strek.


Gebed:  My lewe weerspieël Gods liefde en lig.



~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: