Saturday 8 March 2014





Ons is ‘n aangename geur vir Christus .............. 


2  Kor  4:14,15


2 Korinthiërs 2:14,15 “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van Sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God...”

Die Lewende Bybel: “...Hy gebruik ons om ander mense van Christus te vertel. En dit is soos ‘n aangename reuk wat orals versprei. ‘n Mens kan sê die geur van Christus kleef aan ons en God word daardeur geëer...”

Beskrywe dié Skrifgedeelte jou en my? Die Boodskap sê: “Ons is soos ‘n aangename geur wat ander mense van Christus bewus maak. Ons versprei die wonderlike aroma van Christus tot eer van God” (Vers 15)

Wanneer jy enige aangename parfuum op jou liggaam gebruik het, hoef jy niemand te vertel dat jy dit gedoen het nie. Almal wat met jou in aanraking kom, sal dit ruik. Net só gaan dit met ons wat met Jesus kontak gemaak het en in verhouding met Hom leef – almal met wie jy kontak maak sal agter kom jy is anders. Hierdie “geur van Christus” wat in ons is, sal na vore kom in die woorde wat jy praat; in jou gesindheid en in wat jy doen. Dit geld waar jy studeer, waar jy werk, waar jy inkopies doen en ook waar jy jou sport bedryf. 

Let daarop dat Paulus hier praat van “die reuk van Sy kennis.” Dit kom hierop neer dat hierdie reuk waarna verwys word kom deur kennis (waarheid) wat ons van Jesus gekry het. Hierdie kennis kry jy alleenlik as jy tyd neem in Sy Woord en in jou verhouding met Hom deur gebed.

God se waarhede is vir die gelowige iets aangenaam en word genoem “’n reuk tot die lewe” maar vir hulle wat nie wil glo nie word dit “’n reuk tot die dood”


Besluit om vandag ‘n aangename geur van Christus te wees.
Laat dit uitkom in jou woorde en dade asook in jou gesindheid.
Sorg dat jy genoeg tyd spandeer in die Woord en in gebed.



~ Equip Ministry ~

No comments: