Sunday 5 October 2014

BEANTWOORDE GEBED





Vader, Ek dank U dat U My verhoor het.  -  Joh. 11:41


Wanneer ons bid, verwag ons die regte, volmaakte antwoorde op ons gebede.  En tog raak ons soms so moedeloos, omdat dit lyk asof ons gebede maar net nie beantwoord word nie.  Dan het dit tyd geword om na onsself te kyk, en vas te stel wat ons gesindheid is wanneer ons bid.

Probeer ons vir God voorskryf presies wat Hy moet doen, of eindig ons elke gebed af met die woorde:  “Dit, Here is wat ek graag wil hê, maar as U iets beter in gedagte het, dan sê ek nou by voorbaat dankie daarvoor.  Laat U wil geskied!  In Jesus Naam vra ek dit.”

In watter lig sien ons die uitdaging wat ons in gebed opdra?  Sien ons dit as synde iets wat lei tot ons verdere geestelike groei, of soek ons onmiddelike antwoord op materiële gebied.  Is ons positief omtrent die saak, of  bly ons gedagtes negatief en vol kommer.  Met ander woorde, glo ons? 

As ons opreg bid, en glo in Gods liefde en lig, dan sal ons gebede op die regte tyd, op die regte manier beantwoord word – vir onsself of vir enigiets of iemand vir wie ons bid, en ons sê byvoorbaat dankie!  En ons bid of vra dit om Jesus ontwil.


Gebed:  Dankie Heer, dat U my gebede verhoor!


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: