Tuesday 14 October 2014

EEN TREE




As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie.  -  Spr. 4:12


Klein kindertjies moet eers klein treetjies gee voordat hulle kan loop of selfs hardloop.  Die eerste treetjie is meer wankelrig, maar dit is die begin van ‘n ontdekkingstog ‘n hele nuwe wêreld in.

En nou, as volwassenes is ons nog steeds besig om daardie eerste tree die onbekende in te gaan.  Van oomblik tot oomblik, van dag tot dag, jaar in en jaar uit, betree ons die onbekende, en ons weet steeds nie wat op ons wag nie.

Dit sou seker ‘n groot waagstuk gewees het – en vir baie mense is dit seker ‘n waagstuk – as ons nie met vertroue, met ons hand in dié van die Heer, tree vir tree voortgegaan het op ons lewensweg nie.

Hoe jammer vir hulle wat nie hierdie versekering het nie, hulle wat bang en onseker opstaan en gaan slaap.  Ons bede vir diesulkes is, “Laat U lig vir hulle deurbreek, Heer.”

En ons, sien ons wérklik die lig?  Is elke nuwe tree ‘n opwindende uitdaging omdat ons weet ons Heer is altyd net een tree voor ons?  Hy lei ons, rig ons, en sorg dat ons nie ons voet stamp of seerkry nie.  Daar sal niks in ons pad wees nie!


Gebed:  Niks is in my pad nie!


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: