Friday 2 December 2011





OASE VAN VREDE


Vrede in jou! –  Ps. 122:8 OV


Diep, diep in my diepste wese, so diep dat geen menseoog dit ooit kan sien nie, is ‘n plek van vrede en rusEk noem dit my oase van vrede, en slegs een skietgebedjie, een gedagte, is nodig om dit te kan binnegaan.  Dit is die heilige plek binne-in my waar Christus self Sy tuiste gemaak het, en geen onrus of spanning kan bestaan voor die lig van Sy heilige teenwoordigheid in hierdie kosbare plek in my nie.

Hier is ‘n fontein van lewende water wat nooit uitgeput raak nie, en elke keer as ek daarvan drink, word ek na gees, siel en liggaam verkwik.  Al die onstuimige gedagtes wat my sielerus versteur, word stil voor Sy liefde en lig wat hier heers, en kalm en rustig luister ek na die stem van my Heer.  Ek luister na Sy gedagtes wat lig bring, en insig – na hemelse idees wat ek prakties kan toepas in my lewe.

Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, vul my hart en gemoed, en rustig en kalm kan ek voortgaan op my lewensweg, want ek weet wat ek moet en kan doen in Sy lig, liefde en krag.


Gebed:  Gods vrede in my maak my kalm en sterk.


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: