Wednesday 7 December 2011




VLEUELS


Neem ek die vleuels van die daeraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou U hand my lei en U regterhand my vashou. 
Ps. 139:9


Vandag neem ek die vleuels van die daeraad, en vlieg ‘n nuwe, lokkende dag binne.  Hernu en verfris na die rus van die nag, vry van die eise van gister, met nuwe krag en moed, sweef ek die nuwe dag binne.  Die vleuels wat my so dra het ‘n krag van hul eie wanneer my eie kragte uitroep:  “Ek kan nie meer nie!”  Hoër en hoër dra dit my wanneer die dinge van die wêreld dreig om my na benede te trek.  Heerlik vry en bly, sê ek dankie vir die wonder, die krag en die sterkte van hierdie hemelse vleuels wat my so vreesloos die toekoms binne dra – vreesloos omdat ek weet Wie hou my regterhand vas!

Dankie, Vader, vir U krag in my wat my in staat stel om op te staan, om sterk te staan en met die vleuels van die daeraad hoog te vlieg bo alles heen wat dreig om my aan bande te lê.  Opwaarts dra die vlerke my wanneer die dinge van die wêreld my na benede trek!


Gebed:  Dankie, Vader, vir die vlerke wat my opwaarts dra!


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: