Tuesday 17 June 2014





WELKOM!


Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde.  -  Jes 65:17 (Ou Vert.)


“Welkom!”  roep ek.  “Welkom lewe en welkom nuwe dag!”  Die duisternis het verdwyn en die skaduwees het gevlug toe die nuwe dag gebreek het.  ‘n Gees van nuutheid heers in die huis wat my hart is.  Ek wag gretig op die goeie wat op pad is na my toe.

Welkom geluk!  Welkom blydskap!  Kom in en bly by my.  Ek is klaar met terneergedruktheid en bedroefdheid.  Ek is klaar met nuttelose spyt.  Ek is nuut, die lewe is nuut.  Ek voel helderheid en ‘n glorie wat alles deurstraal.  Ek is omring met die wonder en die skoonheid van Gods liefde.

Ek kom reg.  Ek kan alles tegemoetgaan en oorwin.  Ek kan ‘n nuwe lewe bou – ‘n lewe wat ryk, vervullend en na my smaak sowel as na God se smaak is.

Welkom lewe!  Welkom nuwe dag!  Ek is bly om te lewe en om in hierdie wonderlike wêreld te kan leef.


Gebed:  Welkom lewe!  Welkom nuwe dag!


~ Uit Daelikse Woord  April 1990 ~


(Ek versamel hierdie stokoud Daelikse Woord boekies wat nou Wees Lig genoem word.  As julle daarvan het en dit nie meer gebruik nie – stuur dit asb vir my.  Hulle sal ‘n ereplekkie hê in my versamelinkie!  Baie dankie,  Poppie Oosthuizen - My epos adres is:  mamma333@gmail.com )

No comments: