Thursday 19 June 2014





MY  STERKTE


God is my sterkte;  aan Hom behoort  ek vir altyd.  -  Ps 73:26


Heer van my hart, ek vat U hand!  Gee my die nodige krag vir die ure en die dag wat voorlê.  Maak my sterk, dierbaarste Heer, na gees, siel en liggaam.  Versterk my wil en versterk my moed en geloof sodat ek kan doen en wees dít wat ek in U krag kan doen en wees en moet deurgaan.

Maak my liggaam oop en ontvanklik vir die helende krag van U liefde en lig wat onverpoosd in my are vloei, en seën my met nuwe lewensenergie en krag.

Heer van my hart, gee my die krag om vas te staan in my geloof in U en U almag, en nie ontsteld te word deur die voorkoms van dinge om my nie.  Hou net my hand styf vas, Heer, dan sal nie struikel of val nie – dit wéét ek!

Heer van my hart, voorsien my vandag van ál die lig, ál die liefde en ál krag wat ek nodig mag hê om van hiérdie dag ‘n sukses-dag, ‘n Lig-dag, ‘n dag saam met U te maak!

Dierbaarste Heer – dankie dat U só naby aan my is – net een enkele gedagte, een gebed ver!


Gebed:  Ek vat U hand, Heer, besitter van heel my lewe!


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: