Saturday 21 June 2014





Griet en haar 15 Kleutertjies - Ons God is SO groot! (bietjie lank maar oor en oor die moeite werd!)

deur Nina Smit 


Tydens 'n televisieopname vir Christen-Net gesels ek met 'n vrou in Happy Valley wat elke dag na 15 kleutertjies, wie se ouderdomme van sowat nege maande tot ses jaar wissel, omsien. Sy bly in n eenkamerplakkershut, sonder 'n toilet of kombuis. Die dubbelbed in die klein vertrekkie beslaan omtrent een derde van die beskikbare ruimte.

'Griet,' wil ek by haar weet, 'wat op aarde vang jy élke dag vir twaalf uur lank met so baie kinders in so 'n klein kamertjie aan?'

Sy glimlag stralend vir my. 'O, ek kyk na hulle en ek lees vir hulle stories en ek leer hulle sing en ek is lief vir hulle.' sê sy.

'Kan hulle vir ons sing?' vra die televisieregisseur. Griet stel haar spannetjie in gelid voor die plakkershut op - sommer so tussen die wapperende wasgoed - en neem langs hulle stelling in met die twee jongstes op haar heupe. Sy sit in en hulle begin sing:

My God is so groot, so sterk en so magtig,
daar's niks wat my God nie kan doen!
Die berge maak Hy, riviere daarby,
die blommetjies, voëltjies en sonneskyn -
My God is so groot, so sterk en so maggtig,
daar's niks wat my God nie kan doen!

Die kuier by Griet het vir my weer die waarheid van die kleuters se koortjie onderstreep: die God wat ons aanbid, is groot, *so* groot en *so* magtig, dat daar heeltemal niks is wat Hy nie kan doen nie. Ons mag maar met groot vrymoedigheid op sy hulp staatmaak en oor Hom bly wees!

(Is dit nie ongelooflik wat hierdie vrou doen nie - sy laat die kinders sing van die mooiste ou blommetjies wat hulle dalk nog nie eens gesien het nie, want hul word groot tussen sinkplate en roesplekke! Ek is seker daar sal eendag 'n baie spesiale plekkie in die hemel wees, want wat SY doen vir die kindertjies wag GOD *so* liefhet, is sekerlik een van die grootste liefdesdade *ooit*!


No comments: