Wednesday 31 October 2012






BLYDSKAP EN DANKBAARHEID


My dienaars sal jubel omdat dit met hulle goed gaan.  -  Jes. 65:14


Blydskap word gebore in ‘n dankbare hart.  Ek is dankbaar en bly want ek is ‘n kind van God, en my blydskap ken geen perke nie.  Soos helende balsem werk dit in en deur elke sel in my liggaam.  ‘n Vrolike lied met ‘n boodskap van krag, van hoop en liefde, weerklink uit die dieptes van my jubelende hart.

Die probleme van gister bestaan nie meer nie – dit het in die niet verdwyn. Met my Heer aan die stuur van my lewe, gaan ek vrolik en bly voort op my pad van lig.

Vanuit ‘n fontein diep binne-in my borrel hierdie blydskap en vreugde op, en vrylik deel ek dit met my medemens, om ook hulle te seën en te heel.

Ek deel hierdie blydskap met elkeen wat my pad mag kruis – groot of klein, oud of jonk, met ‘n glimlag wat hulle welkom laat voel, ‘n groet wat wys dat ek hulle waardeer.

‘n Benadering soos hierdie werk aansteeklik, weldra ontwaak daar ook ‘n lied in die hart van elkeen van hulle saam met wie my paadjie deur die lewe kronkel en vleg.


Gebed:  Vrolik en bly gaan ek voort!


~ Uit Daelikse Woord ~






No comments: