Tuesday 6 November 2012






TROOS


Die Here het Sy volk getroos.  -  Jes. 49:13


Wanneer ons te staan kom voor groot verliese, hartseer besluite wat gemaak moet word  of diepe teleurstellings, wanneer ons dit moeilik vind om by veranderde omstandighede of nuwe verhoudinge aan te pas, wanneer ons alleen en verlate voel, smag ons daarna om vertroos te word.  Ons verlang daarna dat die pyn en verwarring wat ons ondervind tot ‘n einde moet kom, dat ons ‘n plek van stilte en rus mag vind.  Maar in werklikheid verlang ons dan na God se nabyheid en sagte Vaderhand op ons hoof, want dit is alléén Hy wat die troos kan bied wat ons só inniglik na smag.

Hy is ons stil plek van rus, ons veilig hawe wanneer ruwe storms om ons woed, wanneer ons vir Hom vertel van ons pyn, hartseer en teleurstellings en ons vertroosting by Hom gaan soek, en dan voel hoe Sy arms só liefdevol om ons omvou – hoe Hy alles verstaan terwyl ons tot Hom bid:

“Liefdevolle Vader, ek kom na U toe om vertroos te word.  Omvou my in U nimmer-eindigende liefde Heer en laat U lig helder in en om my skyn.  Neem al my vrae en vrese weg Heer sodat ek net aan U kan dink, aan U krag aan die werk in en deur my, aan U liefde om my.  Liefdevolle Vader, U is my troos en my rus, my krag en my sterkte, dankie dat U altyd daar is om geduldig te luister na al ons vrae, na ons seerkry.  Dankie dat ons so ‘n wonderlike Vader het met wie ons kan praat.  My siel rus nou in U.”


Gebed:  Dankie Heer, my siel rus nou in U.


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: