Sunday 18 November 2012





TROOS

Die ewige God is ‘n skuilplek, sy arms is altyd onder jou. – Deut. 33:27

God het my lief, en met teerheid en sorg vou Hy my toe in Sy vaderarms.  Nooit is ek alleen nie – ek lewe, beweeg en bestaan in Sy kosbare liefde, lig en krag.

Met volle vertroue en oorgawe plaas ek al my vrese en bekommernisse in Sy troue sorg en bewaring.  Ook mense en omstandighede wat my met kommer en wanhoop mag vul, oorhandig ek óók aan Sy troue sorg.  Ek gló dat Sy wil sal geskied.

Ook vir hulle wat my ná-aan die hart lê, sien ek omvou in Sy grote liefde, en ek wéét dat Hy hul steeds lei op weë wat vir hulle reg en goed is, weë wat lei tot hul hoogste heil.

Ek ís ‘n kind van God, geskape na Sy beeld en gelykenis.  Stap vir stap lei Hy my, leer Hy my en stadig maar seker, treetjie vir treetjie beweeg ek ál hoe nader aan Sy heilige troon.

My skuilplek is bý God, en ek rus in die koestering van Sy ewige arms.

Gebed:  Die liefde van God omvou my en ek is veilig!

~ Uit Daelikse Woord ~

No comments: