Sunday 25 November 2012





BESKERMING DEUR GEBED

Bid gedurig. – 1 Tess. 5:17

Ons berei ons altyd voor vir enigiets wat ons ookal moet doen.  Wanneer dit koud is, trek ons warm klere aan vir beskerming.  Ons vertrek altyd betyds sodat ons genoeg tyd het om veilig skool toe, werk toe, kerk toe, winkel toe, te ry.  Met studies en navorsing berei ons ons voor vir enige soort toets wat ons moet skryf.

Die heel belangrikste voorbereiding wat ons egter kan tref vir enige dag, tyd of plek in ons lewe, is gebed, want dit herinner ons daaraan dat God altyd met ons is, en altyd in ons en om ons aan die werk is.  Gebed versterk ons geloof en beïnvloed ons gedagtes in so ‘n mate dat alles wat ons doen of sê ons diepe geloof en blydskap in ons Heer weerspieël.

Wanneer ons dink aan die krag van die Heilige Gees aan die werk in ons en ons geliefdes is ons eintlik besig om te bid.  As ek nét die goeie en die mooie in iemand anders of in een of ander situasie sien, is ons besig om te bid.  Met hierdie een-minuut gebede wat ons deur die dag bid, skakel ons in op die lig, liefde en krag van God wat steeds in ons en om ons skyn en werk, en ons is beskermd en veilig.

Gebed:  Die krag van God beskerm ons en ons geliefdes.

~ Uit Daelikse Woord ~



No comments: