Thursday 29 November 2012





BESKERMD

Die Here is naby.  Moet oor niks besorg wees nie.  -  Filip. 4:5,6

Die Here is naby ons, ons moet oor niks besorg wees nie – hóé nodig het ons nie híérdie boodskap vandag en elke dag van ons lewe nie!  Hy is só naby – Hy is binne-in ons, en as gevaar ons bedreig, keer Hy dit weg nog vóór ons selfs bewus was daarvan.  Hy sorg vir ons, waak oor ons, en bly ons Pantser van Lig waardeur niks en niemand met kwade bedoelings ons kan bereik nie.  Of ek nou werk of slaap, stap of op pad is, ek bly rustig en kalm, want ek weet Wie waak oor my!

Dankie, Vader, vir die hemelse voorreg om só veilig te kan voel en wees in U beskermende Liefde, Lig en Krag.  Saam met U wandel ek, ry ek, werk ek, en ek weet – U is die Een wat saam met my stap, saam met my ry, my eie persoonlike Wonderwag!  En ek vra U, Heer, waak ook so oor my geliefdes.  Waak oor die mense van hierdie mooi land van ons, en bring lig in die duisternis, bring insig in die denke van hulle wat aan die stuur is, en omskep ons land in die mooi, veilige land wat dit kán wees in U.

Gebed:  Die Here is naby, ek is oor niks besorg nie.  Dankie, Vader!

~ Uit Daelikse Woord ~


No comments: