Wednesday 21 November 2012





BEANTWOORDE GEBEDE

Met vreugde sal hulle uittrek en met vrede gelei word. – Jes. 55:12 OV

Ons houding van vertroue en geloof nadat ons gebid het, is só belangrik!  Ons vra, ons glo, ons sê dankie, en volkome ontspanne wag ons dan op ons Hemelse Vader se volmaakte antwoord.  Hierdie biddende houding van ons gee báie krag aan ons gebede.

Ons bly oop en ontvanklik en word gelei tot die regte optrede.  Vrede heers in ons gemoed omdat ons wéét dat die krag van Sy Heilige Gees in ons en om ons aan die werk is tot ons hoogste heil.  Op die mees lonende wyse word ons gebede beantwoord, en opgewonde sien ons uit na die antwoorde om vorm aan te neem in ons lewe.

Gebed is en bly ons uiters waardevolste tyd van kommunikasie met die Heer van ons hart, ‘n tyd waarin ons nie net vra nie, maar óók élke keer opnuut gevul word met Sy seënende lig, liefde en krag.  In hierdie krag en liefde is dit vir ons maklik om, nadat ons gebid het, volkome te ontspan sodat Hy ons in vrede kan lei.  God antwoord élke gebed op Sy eie tyd (ons moet altyd onthou dat ons tyd nie Sy tyd is nie) en op Sy heel beste manier, wat vir ons uiteindelik ten goede sal meewerk.

Gebed:  Dankie Heer, vir U antwoorde op my gebede en vir die wete dat U luister na elkeen van hulle.

~ Uit Daelikse Woord ~


No comments: