Thursday 25 October 2012





‘N VOORBEELD


Julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword … So het  julle ‘n voorbeeld geword vir al die gelowiges.  -  1 Tess. 1:6-7


‘n Besondere onderwyser, ‘n wyse familielid, ‘n vriend wat omgee – dit is die mense wat vir ons rigting in die lewe gee.  Vir hulle inspirasie, hul leiding en omgee-liefde vir ons, sonder dat hulle dit altyd eens weet, sê ons uit die diepte van ons harte, dankie dierbare Vader!  Dankie vir hierdie mense in ons lewens wat hul hoër geestelike waardes uitleef – ware voorbeelde vir andere!

Hoe graag wil ons nie ook so ‘n voorbeeld wees nie.  Ons beskik ook oor hoër geestelike waardes, wat ons graag wil uitleef teenoor ons naaste.  Ons weet nie hoeveel volwassenes, en moontlik ook kinders, ons as ‘n rolmodel sien waarop hulle hul eie lewens kan skoei nie.  Jou familie, jou bure, jou vriende, kennisse, afgesien van jou huweliksmaat en kinders, en ook die vreemdeling wat by jou verbystap of wat jy ontmoet in die dorp of in jou motor in die verkeer, is maar enkele voorbeelde.  Daarom is dit so belangrik om ons voete stewig op ons pad van lig te hou.

Daar is net een onfeilbare manier om dit te doen, en dit is om die voetspore van Jesus Christus, ons Leermeester en Wegwyser, te volg.  Om soos Hy, met deernis, respek, eerbied, vergifnis, en bo alles, liefde, ons medemens te benader – ‘n ware voorbeeld vir andere.


Gebed:  Omskep my in ‘n omgee-mens, dierbare Heer, met U liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~







No comments: