Monday 1 October 2012





GENADE


Die Here het ook die boodskap van Sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen.  -  Hand. 14:3


As ek probeer vasstel wat die presiese betekenis van genade is, voel dit vir my asof ek iets so ontwykend soos ‘n donsie wat in die lug ronddryf probeer vasvang.  Ek mag dink ek het dit, maar as ek my hand oopmaak, is daar niks.

Gelukkig hoef ek niks meer omtrent genade te verstaan as dat dit Gods liefde in aksie is nie!   Ek doen niks om dit te verdien nie, maar my hemelse Vader het my lief, en in Sy grenslose liefde seën Hy my elke oomblik van elke dag só oorvloediglik, dat ek voel ek kan net nie genoeg dankie sê vir al die seëninge wat my dae so ryk en vol maak nie.  Dankie, dierbare Vader!

Dankie dat U altyd daar is vir my!  Selfs in die donkerste van tye in my lewe, wanneer ek nie U aanwesigheid kan aanvoel of U stem kan hoor nie, weet ek dat U elke sekonde rondom my is en my dra in U oneindige genadige krag en liefde, binne U troue Vaderarms.  Dankie Heer, dat ek vol vertroue kan voortgaan op my pad van lig, vas vertrouend op U genade en liefde om my steeds te lei en te beskerm teen enige onheil wat my mag bedreig.

En, Heer, dankie vir U genade en ontfermende liefde vir ons wêreld en sy mense.  Daarsonder sou ons nooit kon voortbestaan nie!


Gebed:  Dankie, Vader, dat U ons so oorvloediglik seën met U genade en liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: