Sunday 7 October 2012





As 1 Korintiërs 13 net vir Mammas geskryf was .....



Al sou mamma die mooiste huis besit en die lekkerste etes vir ons voorberei, maar dit nie met liefde doen nie, dan is dit so waardeloos soos 'n leë kastrol.


Al is mamma die besigste mamma op die Beheerraad en vir my eendag die duurste sporttoerusting koop, maar mamma het  nie die tyd om my langs die sportveld aan te spoor nie, dan sal dit my niks baat nie.


Al koop mamma 'n kamer vol van die duurste opvoedkundige speelgoed en betaal sakke vol geld vir ekstra klasse, maar mamma sit nie ook self by my en speel of sukkel met die skoolwerk nie, dan sal dit my niks baat nie.


'n Liefdevolle mamma is geduldig met my, sy tel maar partykeer my speelgoed en klere op.


'n Liefdevolle mamma is lankmoedig en vriendelik, sy laai haar motor maar somtyds vol kletsende, bakleiende, swetende skoolkinders.


Mamma's vergelyk nie hul kinders met ander kinders nie en is nie verwaand oor prestasies nie.


Mamma's bedek skrape met liefde en pleisters en glo in my, hoop net die beste vir my en verdra die klaery en kritiek. My gewasde en gestrykte wasgoed word weer vuil en 'n netjies huis weer deurmekaar.......maar 'n opregte drukkie en 'n intieme gesprek sal vir altyd in my kinderhartjie bly.


Eendag sal ons huis en sy binnekant tot niet gaan, maar mamma en ons gesin se siele sal ondersoek word.


Toe mamma nog 'n jong meisie was, was mamma gesteld op mamma se mooi voorkoms en aardse besittings, maar noudat mamma 'n MA is, het ons kinders die belangrikste geword.


Een van die dae kyk mamma miskien vas in 'n opstandige tienergesig, maar eendag as ek groot geword het, sal ek die vrugte pluk van die LIEFDE wat mamma in my kleintyd gesaai het.


En nou bly, AANDAG, GEDULD en LIEFDE, hierdie drie, maar die waardevolste hiervan is die onvoorwaardelike LIEFDE van 'n mamma! ♥






No comments: