Friday 7 June 2013





LUISTER  ÉN  PRAAT


Lees  -  Filippense 4:1-9


Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend  (Fil  4:6).


‘n Gesprek sal baie vervelig wees as net een persoon die hele tyd praat.  Kommunikasie is dus luister én praat.  Een van die redes waarom ons sukkel om met God te praat is dat ons die hele tyd alleen aan die woord is en nog nie geleer het om na God te luister nie.

Maak gerus jou begeertes deur gebed en smeking aan God bekend, maar luister dan na wat Hy in sy Woord vir jóú wil sê.  Wanneer jy Bybel lees, praat God met jóú.  Bid met jou oop Bybel, praat met God, vra die Heilige Gees om die Woord vir jou oop te maak, luister daarna, en antwoord God dan op sy Woord.  Só raak gebed ‘n opwindende gesprek met ‘n lewende God.

Wanneer jy só bid, sal die vrede wat God gee ook in jou lewe tuiskom.


Gebed:  Hemelse Vader, dankie dat ek vandag kon leer dat ek nie net moet vra nie, maar ook na U moet luister.  Dankie vir u Gees wat u Woord vir my oopmaak.


*  Gebed is luister én praat. *


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~





No comments: