Wednesday 5 June 2013





GEBED IS ‘N VOORREG


Lees  -  JES  30:18-21


Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm ...  Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor  (Jes 30:18-19).

Sê nou maar net ‘n mens kon net een maal per jaar tot God bid.   Hoe goed sou jy nie jou gesprek met Hom beplan het nie.   Vir hoeveel dinge sou jy nie dankie sê nie.   Hoe geesdriftig sou jy Hom nie loof nie.

Miskien is dit omdat dit vir ons so maklik is om te bid dat ons vergeet watter ongelooflike groot voorreg gebed is.  Ons kan vier en twintig uur per dag na God gaan met ál ons probleme en versoeke.   En Hy is élke keer bereid om ons gebede te *verhoor sodra Hy dit hoor*.   Méér nog, Hy is gretig om ons genadig te wees.   Die 1933-vertaling sê dat God met ongeduld daarop wag om ons genadig te wees.

Wat ‘n wonderlike voorreg is dit nie om só ‘n God te ken, lief te hê en met Hom in gesprek te tree nie!   Voordat jy weer bid, dink na oor watter prys God moes betaal om hierdie gesprek met Hom moontlik te kon maak.


Gebed:  Hemelse Vader, baie dankie dat u Seun gesterf het vir my sonde sodat ek vry na U kan gaan.   Gee dat ek altyd sal besef watter groot voorreg en verantwoordelikheid dit is om te kan bid.


*God wag ongeduldig om my genadig te wees.*


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~




No comments: