Friday 7 June 2013





VRA,  EN  JY  SAL  KRY


Lees  -  Matteus  7:7-12


Vra, en vir julle sal gegee word;  soek, en julle sal kry;  klop, en vir julle sal oopgemaak word  (Matt  7:7).


Vir ons vroue is dit mos tog te heerlik om te gesels – al sê ons mans ons skinder net!   Maar is dit nie snaaks dat juis die grootste geselsers soms na woorde soek wanneer hulle wil bid nie?   Daar kan verskillende redes hiervoor wees ...

Miskien beplan ons nie ons gebede goed nie;  miskien maak ons nie genoeg tyd om werklik stil te raak voor God nie, of miskien het ons in die gewoonte verval om elke dag dieselfde gebed op te sê.   Stel ‘n gebedslys op van alles waarvoor jy wil bid.   Vergeet van alles wat jy nog moet doen en konsentreer op God alleen, dán sal jy onthou wat jy vir Hom wil sê.   Maak ‘n punt daarvan om oor verskillende sake met God te praat.

God belowe dat Hy vir jou sal gee wat jy vra;  dat jy Hom sal vind as jy Hom in die gebed soek, en dat Hy altyd daar is as jy aanklop.


Gebed:  Hemelse Vader, wanneer ek by my vriende is, is daar so baie om oor te gesels, maar as ek met U besig is, raak my woorde op.   Leer U my om te bid.


*Ek gaan van vandag af vir my ‘n gebedslys opstel.*


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~





No comments: